18.11.2008

Namibiese trots na wêreldmuseum

© Ronelle Rademeyer
Mnre. Harold Isaaks en Alex Nkole, twee van die werkers by Trophaendienste buite Windhoek, help laai die vrag opgestopte diere bestem vir Oostenryk.
BY een van die oudste en bekendste taksidermie-ondernemings in Namibië sou ‘n mens Donderdag maklik kon dink jy is ‘n Rip van Winkel wat in die tyd van Noag wakker geword het. Want by Trophaendienste buite Windhoek het 35 verskillende opgestopte soogdiere gister voor ‘n skeepsvraghouer “aangetree”, kompleet soos die diere doeriejare voor Noag se ark moes aangetree het.

Agt taksidermiste onder die knap aanvoering van mnr. Louw Nel het die afgelope jaar volstoom gewerk om al die soogdiere betyds op te stop en gereed te hê vir die versending daarvan na die Alpen Wildpark in Oostenryk Mnr. Manfred Gorn, die eienaar, het die volgende gesê: “Die bestelling vir die klomp trofeë deur mnr. Josef Scherzer is geplaas.

Hy is die eienaar van die wildpark en die diere sal pryk in ‘n vierde museum in ‘n reeks van museums oor diere wat hy by die wildpark ingerig het.” Die jongste museum sal spesifiek fokus op die wildsoorte van Afrika.

Die ander drie museums stel wild van ander vastelande ten toon. Die diere sluit in ‘n groot koedoebul, ‘n reuse-kameelperd, ‘n waterbok, bobbejaan, springhaas, springbok, eland, vlakvark, ystervark, rooihartbees, gemsbok, blouwildebees en buffel.

Dan is daar ook ‘n leeu, luiperd, jagluiperd, krokodil en olifant. Behalwe die diere, gaan ander veldartefakte soos volstruiseiers, boomtakke en –stompe en ‘n hele klomp sakke rooi Kalaharisand ook saam. Mnr. Gorn is reeds dertig jaar in die bedryf. Hoewel hierdie een van sy grootste projekte ooit is, is sy span deeglik onderleg in die kuns van taksidermie en hulle kon die reuse-taak tussen die ander bestellings inpas.

Trophaendienste het gemiddeld 3 000 bestellings per jaar. Daar was selfs al jare wat die span 7 000 moes gereed kry. Vra ‘n mens hulle uit oor wat die grootste uitdagings vir die span was, sê hulle die voorbereiding van ‘n reuse-kampeelperdbul van 6,2 m was geen vulletjie van ‘n taak nie.

Die vel waaraan hul ses maande voorberei het, het 230 kg geweeg. Mnr. André du Toit, wat lid is van mnr. Gorn se span, sê die opstop van die kameelperd was geen geringe taak nie.

“Die vel was omtrent 5 cm dik en moes as’t ware afgeskil word tot op ‘n dikte wat dit maklik gemaak het vir die taksidermis, mnr. Nel, en sy span helpers om dit oor die voorafbereide vorm te span.” Mnr. Gorn sê in totaal kos die opstop en versending van die diere die park-eienaar sowat N$700 000. Dit sluit nie die jag van die trofeë in nie.