Namibia DMC se sekretarisgeneraal, mnr. Joseph Kauandenge.
’n VERANDERING in die leierskap van die land is nodig omdat hedendaagse leiers nie die betekenis van die begrip leierskap verstaan nie. Leiers behoort te verstaan wat mense nodig het en hul doel is om die mense te dien, nie om vir selfsugtige redes in hoë poste te sit nie.
So sê die sekretaris-generaal van Namibia Democratic Movement for Change (Namibia DMC), mnr. Joseph Kauandenge, wat Donderdag die party se verkiesingsmanifes bekendgestel het.
“Namibië is geseën met oorvloedige bronne en daar is geen rede hoekom enige iemand moet doodgaan van die honger nie. Ons is ook van mening dat die jeug aan die voorpunt van ’n nuwe rewolusie moet wees. Daar moet vorentoe gekyk word na die toekoms en nie terug na die dae van die bevrydingstryd nie. “Natuurlik moet die jongmense hul geskiedenis ken en weet hoe Namibië sy onafhanklikheid bereik het, maar niemand kan die bevrydingstryd eet nie. Ons het ’n rewolusie van nuwe idees nodig,” sê mnr. Kauandenge.
Met verwysing na grondhervorming sê mnr. Kauandenge die Namibia DMC sal nie grondwetlike wysigings oor grondhervorming steun nie. Die Regering moet eerder verduidelik wat geword het van die miljoene dollar wat vir grondhervorming begroot is en hoe dit moontlik is dat ministers en adjunkministers asook permanente sekretarisse en ander hoë lui op grond sit wat vir die hervestiging van die armste mense bestem was.
“Nie almal is boere nie. Kyk maar wat het op Ongombo-Wes en ander hervestigingsplase gebeur. Die grondkwessie kan nie op ’n emosionele wyse benader word nie. Die reg tot private eiendom word in ons Grondwet beskerm en Namibia DMC steun die beleid van gewillige koper, vrywillige verkoper,” sê mnr. Kauandenge.
Hy meen ook dat alle ontwikkeling op mense gefokus moet wees. Die uitwissing van armoede sal nooit ’n werklikheid word as die rykes net al hoe ryker word en die nasionale koek nie gelykop gedeel word sodat die armes opgehef kan word nie. Hierbenewens is die buitensporige besteding aan luukshede soos die President se Falcon straalvliegtuig en N$25 miljoen vir nuwe kantore vir die voormalige president, ’n vermorsing van skaars bronne wat veel beter gebruik kan word.
“Die Regering kasty partye wat gevorm word op etniese en stamgrondslag, maar die rede vir die totstandkoming van hierdie partye is omdat die bates van die land nooit regverdig en gelyk tussen al die verskillende groepe verdeel is nie. Ons sal opnuut moet kyk na die wyse waarop dinge gedoen word.” Mnr. Kauandenge het hom sterk uitgespreek dat weggedoen moet word met NamWater omdat die instansie wins maak uit die voorsiening van ’n basiese lewensmiddel aan mense, naamlik water.
Wat MIV en vigs betref meen hy leiers moet die voortou neem en erken as iemand in hul familie of hulself MIV-positief is. Mense moet ophou om agter verskonings soos TB te skuil. Indien leiers na vore kom, word die boodskap tuisgebring dat dié siekte nie net die armstes van die armes teister nie, maar dat almal kwesbaar is.
Hy meen ook dat die hele Cambridge- onderwysstelsel geskrap moet word omdat dit ’n mislukking is. Hy sê baie van die hedendaagse leiers is deur die ou Bantoeonderwysstelsel opgevoed. Die stelsel het leerlinge die kans gegun. om ’n jaar te herhaal wanneer hulle nie suksesvol was nie.
Die onderwysstelsel van die afgelope 19 jaar het meegebring dat duisende leerlinge nie hul skoolloopbane kon voltooi nie en werkloos en sonder ’n opvoeding sit. Hierbenewens is die gehalte onderwys so swak dat selfs graad 12-leerlinge nie kritiese en geloofwaardige denkers is nie.
Hy meen die werkloosheidsyfer in Namibië is na aan 45 persent en dat dit ’n bewys is dat die Regering geen visie het nie en nie oor die politieke wil beskik om werkgeleenthede te skep nie.
Die meer as N$2 miljard wat byvoorbeeld in die begroting aan die Ministerie van Verdediging toegeken is, kan volgens mnr. Kauandenge veel beter word bestee deur werkgeleenthede te skep. Die private sektor moet volgens hom bevorder word sodat die sektor ’n rol in die groei van die ekonomie en die skep van nuwe werkgeleenthede kan speel.