NAMIBIË het die Kopenhagen-verdrag oor klimaatverandering waarvan die sperdatum vir ondertekening Sondag 31 Januarie verstryk het, onderteken en sal derhalwe nou pogings aanwend om die vrystelling van skadelike stowwe in die atmosfeer te verminder.
Met die oog daarop sal hernieubare kragbronne en ander opsies gebruik word deur meganismes toe te pas wat in die Kyoto Protokol vervat is.
Die Minister van die Omgewing en Toerisme, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, het in ’n brief aan die uitvoerende sekretaris van die Verenigde Nasies se raamwerkkonvensie oor klimaatverandering (UNFCCC), mnr. Yvo de Boer, die land se samewerking met dié organisasie en die internasionale gemeenskap bevestig om betrokke te raak by aktiwiteite wat die vrystelling van skadelike gasse op ’n langtermynbasis sal verminder.
Me. Nandi-Ndaitwah het beklemtoon dat Namibië die werkgroepe ondersteun wat die regsraamwerk oor langtermyn samewerking en die Kyoto Protokol finaliseer.
Sy het gesê dat die toepaslike aksies wat deur ontwikkelende lande onderneem moet word (“nationally appropriate mitigation actions” oftewel NAMA) moet aangehelp word deur geskikte en voldoende finansiële bronne en die oordrag van tegnologie en kapasiteitbou om te verseker dat ontwikkelende lande ’n geskikte pas handhaaf om aan hul nasionale ontwikkelingsdoelwitte te voldoen.
Volgens haar moet daar verdere ondernemings en teikens wees wat aansporing en die toepasing van NAMA in ontwikkelende lande sal aanmoedig.
Verlede week Woensdag het Eerste Minister Nahas Angula bekendgemaak dat daardie ontwikkelende lande wat die verdrag wel onderteken, op die US$30 miljard bystand vir die ontwikkeling van hernieubare energiebronne aanspraak kan maak. Dit is op voorwaarde dat die ondertekenaar maatstawwe tref om die impak op die omgewing te versag.
Die ontwikkelde lande het ook onderneem om vanaf 2012 en 2013 elke jaar US$100 miljard beskikbaar te stel.
Mnr. Angula het die inligting bekendgemaak in sy voorlegging oor die invloed van die onlangse Kopenhagen-konferensie by ’n ontbyt wat deur die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI) in Windhoek gereël was.
Hy het in reaksie op die vraag wat die posisie van die Namibiese regering is, gesê die land se afvaardiging na die Kopenhagen-konferensie het reeds ’n voorlegging aan die kabinet gemaak en dat op die Regering se reaksie gewag word.
Mnr. Angula het verder oor die opvatting dat die land nie ’n ander keuse het as om die Kopenhagen-verdrag te onderteken nie.
Hy het gesê druk word reeds op Namibië geplaas deur diegene wat die verdrag die lig laat sien het.
Volgens hom word die ontwikkelende lande deur middel van die verdrag sekere vlakke van die vrystellng van gasse toegelaat. Hy het egter bygevoeg dat Namibië se vrylating van koolsuurgas nie die wêreld sal versmoor nie, maar dié van Amerika, Europe, China, Indië en Brasilië gevaar vir die omgewing inhou.
“Namibië moet stelselmatige stappe doen, uitvind watter hernieubare energiebronne ontwikkel kan word en geld vra om dit te doen,” het mnr. Angula gesê.
Hy het aangevoer dat die Afrika-lande nie ’n keuse het nie as om die verdrag te onderteken aangesien die Afrika-unie eers binne twee weke hul sitting gaan hou.
“Om dus voordeel uit die US$30 miljard te kon trek, moes jy eers die Kopenhagen-verdrag onderteken,” het hy gesê.
Hy het gesê as Namibië uit die geld voordeel wil trek, moet die land hom organiseer en ’n versagtende strategie ontwikkel. Dit beteken ’n strategie oor ’n voldoende hoeveelheid voedsel, ’n groen strategie en ook ’n aanpassingsplan oor hoe Namibië klimaatverandering sal oorleef.
Hy het genoem dat as Namibië ’n groen strategie wil volg om van steenkoolaangedrewe krag ontslae te raak, moet die land onder meer waterkrag, sonkrag en windkrag ontwikkel.
Die Eerste Minister het gesê die Regering het besluit dat die Ministerie van die Omgewing en Toerisme ’n komitee oor klimaatverandering op die been moet bring wat sleutelvennote sal insluit.
Hy het gesê private maatskappye wat belangstel om uit die US$30 miljard te baat, aansoek kan doen.
Hy het verder oor die Kopenhagen-verdrag gesê dat hoewel die kommer van die ontwikkelende lande, nie-regeringsorganisasies en ander belanghebbendes nie behandel is nie, alles nie verlore is nie aangesien onderhandelinge steeds aan die gang is.