
Die toring van 40 meter hoog is binne nege dae by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako gebou. Dit huisves Namibië se splinternuwe radarstelsel waarmee die land se lugruim beveilig gaan word.
LUGVERKEER oor Namibië sal met die ingebruikneem van ’n nuwe topklas radarstelsel van die veiligste op die vasteland wees.
Die Minister van Werke en Vervoer, mnr. Helmut Angula, het die Internasionale Lughawe Hosea Kutako en die lughawe Eros in Windhoek besoek om die nuwe radar- en kommunikasiestelsel te bekyk.
“Met die aanbreek van die Wêreldbeker- sokkertoernooi in Suid- Afrika in Junie vanjaar, sal Namibië gereed wees om sy lugruim met die hulp van die nuwe toerusting te beveilig. Die stelsel sal op 15 April in gebruik geleen word en dan sal ses nuutopgeleide lugverkeerbeheerbeamptes voor die nuwe radarskerms inskuif.”
Mnr. Angula het gesê die Kabinet het gedurende 2006 besluit dat sy Ministerie die nuwe stelsel moet aanskaf en installeer voor die Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika plaasvind. Die nuwe stelsel dek die hele Namibiese lugruim en is teen ’n koste van net meer as N$224 miljoen aangeskaf en geïnstalleer. Gedurende 2007 is vyf maatskappy op die kortlys versoek om te tender en Thales Air Systems van Frankryk was uiteindelik suksesvol.
Die Franse maatskappy is een van die voorste vervaardigers van radartoerusting in die wêreld. Die projek het die installering van ’n primêre en ’n sekondêre radarstelsel en twee ander stelsels om die radarstelsel te rugsteun, as deel van die kontrak behels.
Die projek het ook die oprigting van ’n betontoring van 40 meter hoog by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako ingesluit. Die toring is binne nege dae klaar gebou en die kontruksiekoste daarvan het N$21 miljoen beloop.
“Opleiding van lugverkeerbeheerbeamptes is hoog op die prioriteitslys geplaas en ses van die mense ondergaan in die stadium opleiding in die Verre Ooste. Wanneer hulle terugkeer, sal die volgende ses vir opleiding gaan en vroeg aanstaande jaar sal nog ses beamptes opleiding ontvang. Wanneer hulle die nuwe radartoerusting bemeester het, sal Namibië kan begin om ’n inkomste uit die oorvlugte van internasionale lugrederye te verdien.”
Mnr. Tobias Günzel, adjunkdirekteur van die direktoraat burgerlugvaart, het tydens die besoek van die Minister gesê die verdienste uit oorvlugte sal uiteindelik vir die nuwe radartoerusting betaal.
“Wanneer internasionale lugrederye uitvind Namibië beskik oor die topklas radartoerusting, sal hulle toenemend meer oor die land vlieg en terselfdertyd oorvlugkoste betaal.”
Kyk ook na 'n videogreep oor die geleentheid onder die Videonuus-skakel.