1.03.2010 Namibië gasheer vir SADC-spitsberaad
NAMIBIË is vanjaar die gasheer vir SADC se spitsberaad in sy hoedanigheid as visevoorsitter van die SADC-streek en sal tydens die beraad voorsitterskap van die organisasie hê.
Personeellede van die Ministerie van Buitelandse Sake is dus deur die Minister, mnr. Marco Hausiku, versoek om slegs die beste reëlings vir die beraad te tref. Hy het ’n beroep op die personeel gedoen om te verbeter op die reël van nasionale sowel as internasionale vergaderings.
Die Ministerie het volgens mnr. Hausiku nie plek vir werkers wat met die oog op sulke geleenthede nie proaktief kan optree nie.
Op die onlangse algemene personeelvergadering van die Ministerie het Minister Hausiku duidelike verwagtinge van die personeellede uitgespreek, waartydens hy ook die hardwerkende personeel bedank en gelukgewens het met hul goeie werk.
Mnr. Hausiku het in sy toespraak gefokus op die feit dat hy nie bloot reagerende personeellede in sy Ministerie soek nie.
“Vir ontwikkelende lande soos Namibië om in vandag se globale wêreld vol ongelykheid, konflikte, armoede, tekort aan toegang tot hulpbronne en markte suksesvol mee te ding, is dit belangrik om tydig en voldoende gebruik te maak van die geleenthede wat beskikbaar gestel word.
“In so ’n situasie is dit belangrik dat ons proaktief moet wees. So ’n globale omgewing het nie plek vir beamptes wat net reagerend is nie en wat geen inisiatief aan die dag lê nie. Natuurlik is daar beamptes wat hul werk goed en op tyd doen en aan hulle wil ek sê, hou aan daarmee,” het Minister Hausiku gesê.
Hy het beklemtoon dat dit die plig van die personeel is om die land se beeld te alle tye hoog te hou.
“Ons sal vanjaar ’n belangrike rol speel in die bevordering van die Afrika-vasteland,” het hy gesê. Namibië is, volgens mnr. Hausiku, op verlede maand se Afrikaunie (AU) spitsberaad in Addis Abeba, Ethiopië, vir twee jaar as ’n lid van die AU se vrede- en sekuriteitsraad gekies.
“Hierdie jaar sal Namibië ook die voorsitterskap van die Voorbereidende Komitee van die Omvattende Nukleêre Toetsverbodorganisasie (CTBTO) in Wene, Oostenryk deel. In die lig daarvan moet ek die belangrikheid van samewerking binne die Ministerie en met ander ministeries en instansies beklemtoon. Die regterhand moet altyd weet wat die linkerhand doen,” het hy gesê.
Mnr. Hausiku het sy toespraak afgesluit met die beroep op sy personeel om hul verantwoordelikhede met erns te bejeën. Dit word van hulle verwag om stiptelik in die uitvoer van hul pligte te wees, “aangesien dit van ons almal verwag word om ’n aanwins eerder as
Francios Olivier
|