Namibië begrawe sy volksmoeder

SPREKER na spreker het Vrydag en Saterdag na wyle Kuku Helvi Mpingana Kondombolo, die moeder van oudpresident Sam Nujoma, as die volksmoeder, ’n simbool van eenheid, ’n pilaar van die gemeenskap se sterkte, ’n bewaarder van orde, ’n Christen van vaste oortuiging en ’n vryheidsvegter verwys.

“Sy het ’n lewe van hardnekkigheid, ’n lewe van oorwinning en inderdaad ’n voorbeeldige lewe van deurdruk en harde werk gelei waaruit ons onbeperkte lesse kan leer,” het President Hifikepunye Pohamba gesê. Volgens die President het Kuku Gwakondo in lewe moeilike tye ervaar, maar ook die beste oomblikke van die land se geskiedenis gesien.

“Sy was daar toe Duitse koloniale magte derduisende mense uitgemoor het en sy was daar toe dieselfde koloniale magte deur koning Nehale lyaMpingana by Namutoni verslaan is.

Sy was daar toe die moderne bevrydingsoorlog op Omugulu Gwombashe in 1966 geloods is en sy was daar toe weerlose Namibiese vlugtelinge by Cassinga vermoor is. Sy was daar toe die finale oorwinning op Cuito Cuanavale behaal is en sy was daar toe Namibië op 21 Maart 1990 onafhanklik geword het,” het President Pohamba gesê.

Die Staatshoof het voorts gesê: “Kuku Gwakondo was in lewe gelei deur die waardes van harde werk, wedersydse respek, eerlikheid, nederigheid en menswaardigheid. Sy had ’n beskeie en grootmoedige gees. Sy het nie beroemdheid nagestreef nie. Sy het ’n eenvoudige lewe in die gemeenskap gelei.

“Ons as ’n nasie kan waardevolle lesse uit die voorbeeldige lewe van Kuku Gwakondo leer. Haar lewe kan ons mense die waardes leer soos welvoeglike en gedissiplineerde opvoeding van kinders en die behoefte om sterk bande in ons gemeenskappe te bou.

Kom ons eer haar nalatenskap deur sterk en vreedsame gemeenskappe te bou. Kom ons hou haar gees lewendig deur goeie buurmanskap, wedersydse respek en selfrespek te bevorder. Kom ons hou haar vlam aan die brand deur die vrede en stabiliteit vir wat sy baie gely het, te verseker.” Volgens Pres. Pohamba het wyle Kuku Gwakondo ver weg van alkohol gebly en haar kinders opgevoed om produktiewe burgers van die land te word.

“Ons land sal ’n beter plek wees indien ons haar voorbeeld volg.” Kuku Helvi Mpingana Kondombolo is in Maart 1898 tydens koning Negumbo lyaKandenge se heerskappy gebore. Sy was die derde kind van die Kondombologesin van die Uukwambi-stam en is van koninklike bloed aan vaders- kant. Haar ouers het later na die Ongandjera-stamgebied verhuis.

Sy is in Desember 1927 gedoop en is dieselfde maand met mnr. Daniel Uutoni Nujoma getroud. Mnr. Sam Nujoma is die eerste gebore van die gesin se elf kinders, waarvan vyf intussen dood is. Wyle Kuku Gwakondo is by die Oneeke-begraafplaas, sowat ’n kilometer van haar woning by Etunda, begrawe.

Die begrafnis het saamgeval met die onthulling van die grafsteen van haar eggenoot, Daniel Uutoni Nujoma, wat in 1978 oorlede is. Kuku Gwakondo is op 26 November in die Ongwediva Medi- Park hospitaal oorlede. Die gedenkdiens is Vrydag gehou.

Die eerste seremonie het in die Lutherse gemeente op Okahao plaasgevind voordat die tweede deel by wyle kuku Kondombolo se huis by die Etunda-nedersetting geskied het.

Eerw. Josephat Shanghala van Okahao het wyle me. Kondombolo (kuku Gwakondo) beskryf as ’n opvoeder van kinders en ’n Christen wat nooit van haar oortuigings afgewyk het nie. Dieselfde boodskap het in elke spreker se beurt weerklank gevind.