
Premier Nahas Angula
DIE mobilisering van stamlojaliteite in enige opvolgdebat of wedloop om die leisels by President Hifikepunye Pohamba oor te neem, verloën die Grondwet as die hoeksteen van Namibiese demokrasie, verneder die amp van die Staatshoof en trek die stand in twyfel van enige verkose leiers wat hulself met sulke etniese woekery besig hou.
Die ondubbelsinnige waarskuwing het Donderdagaand van die Eerste Minister, mnr. Nahas Angula, gekom by die eerste van ’n reeks openbare debatte oor waar die land byna 20 jaar na onafhanklikheid staan.
“Daardie debat (oor opvolging) is lankal beslis,” het die Premier gesê met verwysing na die grondwetskrywende proses en op bedekte wyse waarskynlik ook ’n opvolgplan wat Swapo reeds intern op die heel hoogste besluitnemingsvlak onderskrywe het.
Mnr. Angula het geantwoord op Republikein se vraag hoe die hart van demokrasie in Swapo en die land as geheel dan klop as as daar nog voor die huidige Staatshoof vir sy tweede termyn ingesweer is, reeds ’n opvolgdebat woed. Skote klap al vir weke wild en wakker nadat mnr. Kazenambo Kazenambo gewonder het of dit nie tyd is vir ’n nie-Oshiwambosprekende Staatshoof nie.
Intussen is party leiers in Swapo se Jeugliga hewig ontsteld dat mnr. Kazenambo voor stok gekry is, maar die vuurvretende Minister van Justisie, me. Pendukeni Iivula- Ithana, glo wegkom met ’n openlike steunwerwingsveldtog in die Noorde vir haar planne om eerstens as Swapo se sekretaris-generaal in die Kabinet aan te bly en die pad oop te maak vir haarself as die eerste vroulike Staatshoof in Namibiese geskiedenis.
Die sekretaris van die Jeugliga, dr. Elijah Ngurare, het hierdie egter as ’n swartsmeerveldtog teen me. Iivula-Ithana verwerp.
“Sy is dan in die top vier, so wat het sy om te vrees?” het hy aangevoer.
“Die politiek van ‘ons’ (en ‘hulle’) is ’n voorskrif vir ’n ramp,” het die Eerste Minister in die algemeen vermaan. In die uitgelese gehoor was onder meer dr. Hage Geingob self, wat as stigterspremier en Swapo se huidige visepresident die nommer een opvolgkandidaat is, Kabinetsekretaris Frans Kapofi, dr. Nickey Iyambo en mnr. Andimba Toivo Ya Toivo.
Volgens mnr. Angula mag niemand met ’n oog op die presidentskap of voorkeure in die verband hul verlaat op streek- of etniese gronde nie.
“Die opvolgingsdebat gaan nie oor stamme nie,” het die man gesê wat self in 2004 die aftog teen mnre. Pohamba en Hidipo Hamutenya moes blaas. “Dit gaan oor ’n individu.”
Aangesien die President soos alle ander verkose leiers volgens die Grondwet die beste belange van alle Namibiërs moet verteenwoordig, ondermyn die soort praatjies en veldtogte volgens mnr. Angula die kernvereiste vir die amp – om landsburgers soos ’n Barack Obama met idees en vaardighede te inspireer eerder as om op enger kwessies peil te trek.
“Jy as ’n individu – as jy wil lei, moet jy dit wys deur die kwaliteit van jou leierskap. Nie oor jou stam… of ras nie,” het die Premier die roede openlik ingelê.
“Diegene wat aspireer na die hoë kantore van die nasie behoort dieselfde te doen (as mnr. Obama) en nie op die rug van hul stamme of iets anders te ry nie,” was mnr. Angula se boodskap.
“Anders verlaag ons die kantoor van die President.” Namibiërs self, het hy beklemtoon, sal hul keuse maak op grond van individuele prestasie en nie die soort “groepregte” uit die dae van apartheid wat in 1990 met die skrywe van die grondwet juis eenparig afgesweer is nie.
“Praat eerder oor die kwessies,” die uitdagings wat die land steeds in die gesig staar, het mnr. Angula geëis. Hy het “ontluikende politieke polarisering” as een van die mees beduidende gevare vir die Namibiese demokrasie bestempel.
“Hierdie is die skete van ons demokrasie,” het die Eerste Minister erken, maar die hoop uitgespreek dat politiek sal wegbeweeg van etnisiteit na ideale wat inwoners weer sal inspireer.
Volgens mnr. Angula was daar oor twee dekades besliste vordering op feitlik alle fronte.
“Die enigste vraag is of die vooruitgang genoeg is?” Behalwe om diversiteit en politieke pluralisme beter te bestuur, het die Premier gepleit vir ’n terugkeer na die bou van hoop en vertroue, ’n gedugte en lewensvatbare demokrasie en die voortgesette genesing van ou wonde waartoe oudpres. Sam Nujoma die land op 21 Maart 1990 verbind het.
Die volgende debat in die reeks begin vanaand halfsewe by die Universiteit van Namibië. Dr. Geingob sal vrae beantwoord oor uitdagings vir goeie bestuur en beleidsimplementering.