7.10.2008

Nagtelike roof skud Kalkrand

TWEE verdagtes was teen gister reeds aangekeer nadat die vulstasie op Kalkrand in die vroeë oggendure onder ’n gewapende rooftog deurgeloop het. Vier of vyf gewapende rowers het gister omstreeks 02:50 by die stil, afgesonderde vulstasie en winkel ingebars en het met nagenoeg N$25 000 en sigarette weggekom, het die eienaar, mnr. Rudi Hansen, gister aan Republikein vertel.

“Die vrou wat agter die toonbank werk, is met die pistool oor die kop geslaan. Hulle het my werkers in die kluis probeer toesluit, maar die kluis is baie oud en die werkers het sonder te veel moeite self uitgekom en my gebel. “Die rowers se ontsnapvoertuig was nie onder die ligte by die vulstasie geparkeer nie, maar ’n ent verder in die donker na die spoorlyn se kant toe.

Minute later het Republikein se bakkie wat ons koerante aflewer, opgedaag en die bestuurder het gesê niemand is by hom verby in die noordelike rigting nie. Ons hoef dus in ons soektog net een rigting te dek. “Die polisie van Kalkrand het nogal vinnig gereageer en was in kontak met die polisie op Mariental en die hoofwegpatrollie.

’n Verdagte voertuig is stilstaande op die hoofpad gevind en een verdagte is daar in hegtenis geneem. Omstreeks sesuur is ’n tweede verdagte op Mariental aangekeer waar hy blykbaar betrokke was om die rowers in ’n tweede voertuig te help ontsnap,” het mnr. Hansen vertel. Die twee inhegtenisnemings is gister deur die polisie op Kalkrand bevestig.