
’n Ontnugterde me. Elzethe Vister in wat veronderstel was om haar droomrok vir haar matriekafskeid te wees.
“ROKKIES wou sy dra, maar niemand kyk daarna En almal staan verslae oor sy die rokkie dra.” Die ou volksliedjie het ’n vals noot laat opklink met ’n bohaai oor matriekafskeidsrokke wat in Windhoek losgebars het. Sentraal in die drama staan ene Andreo Fick, ’n plaaslike “ontwerper” wat jong dames ’n droomrok vir hul sprokiesaand beloof, net om hulle op die nippertjie glo as Aspoestertjies gestrand te laat.
Genoeg is genoeg, het me. Elzethe Vister (18) besluit ná sy Dinsdag in trane inderhaas N$2 500 vir nóg ’n aandrok moes opdok omdat haar Fick-skepping, waarvoor sy vooraf N$1 500 betaal het, alles behalwe die sjiek uitrusting is wat sy beloof is. Sy en haar ouers is dieselfde dag reguit polisie toe om ’n saak van bedrog teen mnr. Fick aanhangig te maak.
Deel van die klag is dat skynbaar van mnr. Fick se mondelinge onderneming dat hy me. Vister se grimering, hare en naels as deel van die pakket sou versorg, ook niks gekom het nie. Wat die rok betref, het hy glo nie eens haar mate geneem nie, maar dit sommer met die oog geskat. Boonop lyk die rok volgens me. Vister glad nie soos die oorspronklike skets wat mnr. Fick aan haar voorgelê het nie.
Die sleep van die rok was glo net met ’n koppiespeld vasgesteek. ’n Bekende ontwerper het gister haar kop in haar hande laat sak toe sy Elzethe se rok op Republikein se aandrang onder oë gehad het. “Werk soos dié gee Namibiese ontwerpers ’n slegte naam,” het sy gesê. Blykbaar is me. Vister nie mnr. Fick se enigste modeslagoffer nie.
Republikein beskik oor die name van minstens ses mense wat glo op dieselfde wyse in die steek gelaat is. ’n Jong man wat, soos me. Vister, baie na Woensdagaand se matriekafskeidfunksie van Hoërskool Dawid Bezuidenhout uitgesien het, was eweneens in sak en as oor sy pak wat hy by mnr. Fick laat maak het.
Ook hy moes blitsig ’n groot bedrag vir ’n ander pak uithaal. Nog ’n meisie waarmee die koerant gepraat het, het vertel hoe sy verlede jaar drie maande voor die tyd ’n rok by mnr. Fick bestel het – juis sodat hy genoeg tyd sou hê om ’n meesterstuk te skep. Volgens haar het hy glo eers ’n week voor die tyd daaraan begin werk en die eindresultaat was’n fiasko.
’n Ander ontnugterde matrikulant se rok het verlede jaar na rook van ‘n vuur geruik. Daar was nie tyd om dit te was of te vervang nie en sy moes die aanstootlike reuk “doodspuit”. Spelde was die enigste uitweg vir nog ’n dametjie wat die oënskynlike afskeepwerk prober wegsteek het.
Beide die ontwerper wat Elzethe se rok onder oë gehad en die haarkapper wat haar hare versorg het, sê hulle weet ook van ander mense wat ongelukkig is. Toe Republikein mnr. Fick gister om kommentaar genader het, het hy die koerant met sy prokureur gedreig.
Volgens hom is me. Vister die enigste een wat ’n problem met sy skeppings het. Hy het voorts gesê hy het ook ’n saak teen mnr. Ronnie Buys, Elzethe se pa, gemaak. Mnr. Buys het glo Dinsdag ’n klip in mnr. Fick se huis gegooi ná die herrie oor sy dogter se rok losgebars het.