
Oupa Hendrik Draghoender by die waarskuwingsbord wat reeds jare gelede opgerig is.
HEIMWEE oor vergange dae en die geklap van die vierpondhamer teen Klein-Aub se klip klink in sy ore asof dit gister was en was onafskeidbaar deel van Oupa Hendrik Draghoender se daaglikse doen en late.
Met ’n vierpondhamer het hy die kliprante oopgekap op soek na die koper wat deel van sy lewe, sy huisgesin, vriendekring en die toekoms sou word. Republikein het met die veteraanmyner van Klein-Aub gesels ná die diep gat in die grond wat ’n paar dae gelede bo een van die ou mynskagte oopgeval het.
Soos hy in 1964 sy eerste hamer op Klein-Aub se kliprante opgelig het, so het hy die deur agter hom toegetrek toe die myn in 1987 gesluit het.
“Ons het in 1964 begin regmaak om ’n myn te begin. Die eerste en belangrikste was die aanlê van water.
“Ons was ses manne wat die myn begin het nadat Senator van Zyl van Johannesburg en sy broer Gert die mynregte van die destydse eienaars, mnre. Gert Vries, Niklaas Dentlinger, Karel van Wyk en me. Aria van Wyk ontvang het.
“Die ander mans wat saam begin het, is my drie swaers Stefanus Vries, Petrus Vries en Samuel Vries, asook die twee Damaras, August Eiseb en Willem Kansib.
“Ons het soggens sewe-uur begin klip breek tot drie-uur die middag sonder om enigsins genoeg rus te kon geniet.
“Dan het ons dadelik daarna ingeval en op die langbak van ’n groen Chevrolet geklim om sand in die rivier te gaan laai vir stene om die eerste huisies vir die dorp te bou,” het oupa Hendrik vertel.
Die ouman was die eerste voorman van die myn voor hy later die skakelbeampte geword het tussen die mynbestuur en die mynwerkers wat mettertyd tot sowat 200 Basters en meer as 1 000 Oshiwambosprekendes aangegroei het.
Die nuutste, veelbesproke insinking van die bogrond is volgens oupa Hendrik nie ’n vreemde verskynsel nie. Dit is minstens die tweede keer nadat die eerste insinking se gat met bogrond toegegooi is.
Die plek was reeds geoormerk as ’n nooduitgang omdat die man wat die tonnels oopgeskiet het destyds “te hoog” (naby die grondoppervlak) geskiet het. Ook die nuutste insinking is nie baie diep nie omdat volgens hom die grond op dwarstonnels te lande gekom het.
Die skag is volgens oupa Hendrik 100 meter diep onder die oppervlak en dit is onmoontlik dat die grond tot so ’n diepte kan insink.
“Die gat moet net met grond toegegooi word. Dit hou nie gevaar in vir enige huis, mens of dier nie, want geen huis of struktuur is bo die skag gebou nie.
“Die plek rondom die insinking is jare gelede al toegekamp met ’n waarskuwingsteken dat dit op enige oomblik gevaar vir mens of dier kan inhou. Ons het so iets al jare gelede verwag, dit was geen geheim nie.
“Die Ministerie van Myne en Energie moet nou net sorg om ’n kaart van die myn in die hande te kry om hulself te vergewis dat die plek nie gevaarlik kan wees nie,” het oupa Hendrik gesê.

’n Skoolseun het aan Republikein die groot gat gaan uitwys.