8.02.2010 Moordenaar ontsnap
DIE hoofverdagte in die gruwelmoord verlede jaar op die Krugeregpaar van die Omaruru-plaas Parry het ontsnap. Ebson Tumbireek, op die kronkelweë van die misdaadwêreld beter bekend as Kavari, het in die nagtelike ure van Saterdagoggend uit die polisieselle op Omaruru verdwyn.
Gister is ’n moontlikheid van bystand van buite die polisieselle genoem om Kavari uit die kettings van die gereg te kry. Hy was maar dae op Omaruru in aanhouding waar hy verlede week ook een van die beskuldigdes in ’n saak van veediefstal was.
Kavari (29) en die ander twee verhoorafwagtendes vir die Kruger-moord, Raphael Kahinatjo (44) en Gabriël (Boetietjie) Uazua (31), word sedert hul eerste verskynings op Omaruru ná die gruwel van Parry om sekuriteitsredes op ander plekke in die Erongo-streek aangehou.
Die ontsnapping van Kavari het Saterdagoggend nuwe skokgolwe deur Namibië se Driehoek van die Dood in die Erongo-streek gestuur.
Verlede jaar op 12 Maart is die egpaar Jannie Kruger (81) en sy vrou Toets (75) in die slaapkamer van hul plaashuis doodgeskiet.
In Oktober het me. Lottie Jooste (89) in ’n Windhoekse hospitaal gesterf nadat sy op ’n Saterdagoggend helder oordag op die plaas Riksburg, 20 km oos van Karibib, deur drie gewapende mans oorval is.
In November is nog ’n weerlose huishouer van kleinmyners langs die grondpad tussen Omaruru en Wilhelmstal deur twee beweerde gemaskerde mans oorval. Hulle het sy penis afgesny toe daar op niks afgekom is wat geroof kon word nie. Die mes en die penis is in ’n bos naby die plek van die aanval weggesmyt.
Die driehoek tussen Omaruru, Karibib en Wilhelmstal is ook die berugte werksveld van wild- en veestropers. Kavari is vir die veediefstalsaak na Omaruru gebring, maar sy groter hoftoets is veronderstel om op 25 Februarie in Windhoek aan te breek wanneer die moordverhoor teen hom, Kahinatjo en Uazua op die rol van die Hooggeregshof verskyn.
Tydens Kavari se eerste verskyning op Omaruru ná die Krugermoorde is hy deur hofgangers uitgeken as ’n “gladde jafel” in Omaruru se strate. Daar is ook beweer dat hy oorspronklik van Angola is en steeds bande in die buurland het.
Ná sy eerste verskyning het Kavari weer opspraak op Omaruru verwek toe hy omstreeks elfuur op ’n Dinsdagoggend in boeie by ’n boerewinkel ingestap en ’n pakkie tabak gekoop het. Net daarna het hy by ’n snoepwinkel van ’n aangrensende brandstofstasie ’n pakkie koeldrankpoeier en ’n dosie vuurhoutjies gekoop.
Met geboeide hande het hy gesukkel om ’n N$50- noot uit sy broeksak te kry en te betaal. Die winkelpersoneel ken die man, want hy het in sy tyd van vryheid daar as stukwerker diens gedoen.
Drie mans in siviele drag het hom dopgehou. Met sy inhegtenisneming op die moordklag het die polisie ’n .38 Special en ’n 708-jaggeweer gevind. Een van die beweringe is dat hy die man was wat die sneller in die egpaar Kruger se slaapkamer getrek het.
Die traliewerk van die sel waarin Kavari Vrydag nog as ’n verhoorafwagtende op ’n klag van moord was, is hoog bo die grond. Dit is fisies nie moontlik vir een mens om daar by te kom en die tralies deur te saag nie.
Hy was ook die enigste aangehoudene wat in die nag ontsnap het. Dit sterk ’n vermoede dat hy hulp van buite gekry het. Gister was daar ook nie duidelikheid oor die presiese tyd van sy ontsnapping nie.
Selpersoneel ruil in die namiddae tussen 19:00 en 20:00. Daarna word weer die volgende oggend tussen 06:00 en 07:00 geruil. Wanneer geruil word, word seker gemaak dat almal wat daar hoort agter die tralies is.
’n Veronderstelling is dat die presensielys weer in die nag nagegaan moet word. ’n Moontlike tyd vir sy ontsnapping is die naweek om drieuur die oggend verstrek.
|