24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

12.02.2010

Moles op Okahandja

© Republikein
Dr. Elijah Ngurare.
DIE voortgesette stoeiwedstryd in die binnekamers van die regerende party het op die vooraand van ’n tussenverkiesing op Okahandja oorgekook in ’n waarskuwing deur Swapo se Jeugliga dat hy as militante voorhoede van die party nie sal duld dat saboteurs in die Swapo-beheerde dorpsraad of bestuur sukses by die stembus ondermyn nie.

Naas verdagte lojaliteite staan elektrisiteit as noodsaaklike diens, munisipaliteite se skuldlas aan staatsmaatskappye soos NamWater en NamPower, die wanbetaling van rekeninge en die beweerde wanbesteding van geld in die middelpunt van die mosie van wantroue.

Om sake te vererger, het die Jeugliga Woensdag skriftelik erken dat Swapo se topleiers mnr. Steve “Biko” Booys as kandidaat gekies het, terwyl me. Valerie Aron eintlik die gewildste was. Aantygings oor onderduimsheid tydens die nominasieproses het juis daartoe gelei dat mnr. Ben Katamila van Swapo besluit het om as onafhanklike kandidaat te staan.

Die vonkie in die kruitvat was ’n opdrag deur die hoof uitvoerende beampte van die Tuindorp, ’n Nujoma-gunsteling en gerekende lid van die sogenaamde Omusati-kliek, me. Regina Alugodhi, se ongevoelige opdrag dat alle inwoners wat nie teen Saterdag hul agterstallige kragrekeninge kon bybring nie, teen die afgelope Maandag in die duister sou sit.

Die openbare kennisgewings pryk al vir weke op die dorp.

Me. Alughodi en Helena Shipena, die Tuindorp se Swapo-burgemeester, het na wat verneem word op ’n oorsese reis vertrek kort voor die opdrag uitgevoer moes word.

Die bostelegraaf beweer dat sowat N$6 miljoen van ’n munisipale hulpfonds van meer as N$10 miljoen glo op onder meer toelae vir “nuttelose reise” vermors is eerder as om die massas behoeftiges van Okahandja by te staan.

Dr. Elijah Ngurare, sekretaris van die Jeugliga, het egter gister verseker dat mense nie hoef te vrees dat hul krag gesny sal word nie. Minstens nie tot die verkiesing verby is nie.

“Die lynminister (mnr. Jerry Ekandjo) is versoek om te verseker dat die krag nie afgesny word nie,” het hy benadruk. “Die teendeel sal neerkom op ’n ondermyning van die veldtog vir ’n Swapo-oorwinning.”

Die Jeugliga het Woensdag die dorpsbestuur daarvan beskuldig dat hulle besig is met ’n doelbewuste veldtog om voornemende kiesers teen mnr. Booys op te steek en “hulle uit te lewer aan hul (die bestuur se) koalisievriende in die opposisie.”

Dreigemente om mense se kragtoevoer te staak, het dr. Ngurare geskryf, “kan vertolk word as sabotasie van die hoogste orde teen die verkiesingsveldtog van Swapo en ons pleit daarom vir die dringende ingryping deur die lynministerie.

“Die dorpsraad moet iets doen,” het hy me. Shipena en haar kollegas gister berispe.

Volgens dr. Ngurare kan Swapo nie voor 24 Februarie, stemdag, mense se harte en verstande verower as hulle vrees dat hul enige oomblik in die duister gaan sit nie. Hy het ontken dat me. Aron ter wille van etniese vensterversiering tweede viool moes speel vir mnr. Booys, ’n seun van parlementariër Hans Booys.

“Ons bedank kameraad Aron vir haar begrip,” lees dr. Ngurare se nuusvrystelling. “Sy was eerste,” het hy teenoor Republikein erken.

Volgens die Jeugliga-leier het Swapo, met ’n nuwe parlement waarin vroue maar bitter min sê gaan hê, nie ’n gulde geleentheid misgeloop om te wys hoe sterk die party oor geslagsgelykheid voel nie.

“Mense kla graag, maar kameraad Aron het soos die partygrondwet van ons almal vereis, teruggestaan as ’n gedissiplineerde kader.”

Wat volgens dr. Ngurare die belangrikste is, is dat mnr. Booys soos sy, ’n jeugstem is. Die komende naweek se dis vir die Tuindorp is politiek, politiek en nogmaals politiek.

Môre hou Swanu ’n mobiele veldtog om sy kandidaat, mnr. Ehrenfried Muroua, aan inwoners bekend te stel, terwyl oudpres. Sam Nujoma Sondag Swapo se hoofspreker is.

Die Rally for Democracy and Progress (RDP) en opposisiepartye wat die party se kandidaat, me. Christophine Paulus, ondersteun, hou dieselfde dag ’n gesamentlike vergadering.