24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

27.08.2009

Moddergooiery binne RP

DIE Republikeinse Party (RP) is die jongste opposisieparty wat nou die slagoffer van interne politieke moddergooiery geword het.

Op ’n nuuskonferensie Dinsdag het die president van die RP, mnr. Henk Mudge, gereageer op die aantygings van die geskorste mnr. Nico Smit, wat tot nou die RP se raadslid op die Windhoek stadsraad was, en ook aangekondig dat hy die bedanking van mnr. Pieter Visser, die RP-raadslid op Keetmanshoop; mev. Alta Bindeman, RP-raadslid van Aranos, en mnr. Henk Botha, RP-raadslid van Grootfontein, ontvang het.

Hierbenewens het mnr. De Lange Kotze van Aranos en sy vrou Elmarie ook uit die party bedank, iets wat mnr. Mudge ontstel het omdat “hierdie twee mense uitstekende werk vir ons in Hardap onder moeilike omstandighede gedoen het.”

Mnr. Daan Holtzhausen het ook as voorsitter van die RP bedank, maar aangedui dat hy sou voortgaan om ’n lojale lid van die RP te wees.

Die voormalige goewerneur van Hardap, mnr. Piet Boltman, het ook uit die party bedank, iets wat mnr. Mudge vreemd vind omdat hy nie bewus was dat mnr. Boltman ’n lid van die RP is nie. Volgens hom het mnr. Boltman reeds in 2004 bedank.

Volgens hom was daar ’n groep in die RP wat wou hê hy moes bedank sodat mnr. Boltman die president van die party kon word, óf alternatiewelik dat mnr. Mudge aan die Parlement onttrek word om plek te maak vir mnr. Boltman. Dit is volgens hom onaanvaarbaar omdat die RP se leiers op kongresvlak op ’n demokratiese wyse verkies en niemand uit die bloute aangestel word nie.

Hy het die hoop uitgespreek dat hulle hul verskille, indien daar eniges is, kon oplos.

Mnr. Mudge het bevestig dat mnr. Smit deur die Khomas streekkomitee geskors is, in ooreenstemming met die grondwet van die RP. Lede van die komitee is volgens mnr. Mudge behoorlik verkies. “Ek vind dit vreemd dat mnr. Smit wat versoek is om die werksaamhede van die komitee te koördineer, toe nie probleme gehad het met die grondwet van die komitee nie, maar nou skielik die komitee daarvan beskuldig dat dit ongrondwetlik is,” het mnr. Mudge gesê.

Die redes wat aangevoer word, is “onaanvaarbare gedrag” teenoor sekere RP organiseerders in kiesafdelings in Katutura en in die tweede plek omdat hy “’n veldtog gevoer het teen die leierskap van die party”.

Hy sê ná hy die brief oor die skorsing van die Khomas streekkomitee ontvang het, wou hy mnr. Smit die geleentheid gee om op die beskuldigings te antwoord op ’n vergadering van die party se bestuurskomitee wat Donderdag gehou is. Mnr. Smit het egter nie opgedaag nie met die verskoning dat hy sy saak by Vrydag se uitvoerende komitee vergadering sou stel.

“Die bestuurskomitee was bewus daarvan dat mnr. Smit besig was met reëlings om sommige van ons raadslede Donderdagaand te ontmoet. Ene mnr. Holtzhausen is afgevaardig om die vergadering by te woon en mnr. Smit te oortuig om die bestuursvergadering wat 08:00 Vrydag sou plaasvind, by te woon,” het mnr. Mudge gesê. Pogings om mnr. Smit of mnr. Holtzhausen te kontak, was vrugteloos.

Op Vrydag se vergadering van die uitvoerende komitee om 10:00 het mnr. Mudge aangekondig dat mnr. Smit geskors is waarop mnr. Holtzhausen aangedui het dat hy ongelukkig is met die skorsing en het homself uit die vergadering verskoon.

Voorts wys mnr. Mudge daarop dat die uitvoerende komitee van die RP uit 24 lede en nie uit elf bestaan nie.

“Die afgelope vyf jaar is ek nooit deur óf mnr. Smit of enige raadslede gekontak om hul griewe of die manier waarop ek die party lei, te bespreek nie. Ek sou reken verlede Donderdag was die ideale geleentheid om my te nooi om die vergadering by te woon en na hul griewe te luister. Hulle het egter verkies om dit nie te doen nie,” sê mnr. Mudge.

Hy verwerp ook mnr. Smit se aantygings dat die RP se finansies in chaos is en wys daarop dat die RP ’n oortrokke bankrekening van N$450 000 het. Dit is ná die party op een tydstip met ’n miljoen dollar oortrokke was. Mnr. Mudge wys ook daarop dat nié hy of mnr. Holtzhausen die afgelope ses jaar enige reisen verblyftoelae, petrolgeld of enige ander uitgawes van die party geëis het nie en alles uit hul eie sakke betaal het en selfs duisende dollar meer as wat hy as parlementslid verdien, aan die party bestee het.

“Nie mnr. Nico Smit of enige iemand anders sal die rug van die RP van Namibië breek nie. Hulle moes aansienlik vroeër probeer het, maar vandag is ons ’n sterk party met ’n duidelike visie en ons steun groei elke dag,” het mnr. Mudge gesê.