24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

21.04.2008

Mobiele kantore help ID-proses


DIE Ministerie van Binnelandse Sake het die afgelope jaar daarin geslaag om sy belofte aan die publiek gestand te doen dat identiteitsdokumente binne 24 dae nadat daarvoor aansoek gedoen is, uitgereik sal word. Die kort tyd staan in skrille kontras met die 724 dae wat dit in die verlede geneem het om ‘n identiteitsdokument uit te reik.

Die Minister van Binnelandse Sake, me. Rosalia Nghindinwa, het Donderdag in die Nasionale Vergadering met die motivering van haar begrotingspos gesê die proses om alle Namibiërs van identiteitsdokumente te voorsien is ook versnel deur die opening van substreekkantore op Ruacana, Okongo, Kahenge en Mukwe.

Kantore op Tsumkwe, Grootfontein, Karasburg, Omungwelume, Okahao, Sibinda, Khomasdal en Okuryangava sal eersdaags geopen word. In die volgende fase sal kantore ook op Omuthiya, Okankolo, Okakarara, Okahandja, Aminius, Otjombinde, Kamanjab, Khorixas, Bukalo en Uukwiyuushona geopen word.

“Namibië is ‘n groot land wat yl bevolk is. Dit is nie ekonomies moontlik om substreek kantore in elke kiesafdeling of gemeenskap te open nie en daarom is bevind dat die mees lewensvatbare manier om gemeenskappe in verafgeleë te dien, is met mobiele kantore. Die Ministerie het gepaste voertuie aangeskaf met gevorderde tegnologie vir mobiele registrasiekantore om verafgeleë gemeenskappe te bereik.

Hierdie mobiele kantore het ‘n bykomende voordeel dat data regstreeks aan ‘n sentrale databasis beskikbaar gestel word en sodoende die uitreiking van ID’s bespoedig en lang rye by kantore voorkom,” het die Minister gesê.

Ten einde die handgeskrewe uitreiking van geboorte-, huwelik- en doodsertifikate, wat uiters rydrowend is en meebring dat inligting vir beplanningsdoeleindes nie geredelik beskikbaar is nie, te versnel, het die Ministerie 100 tydelike datatiksters vir ‘n tydperk van een jaar in diens geneem om rekords te rekenariseer.

‘n Nuwe nasionale bevolkingsregister stelsel is ook in samewerking met die Kantoor van die Eerste Minister ontwikkel wat inter-skakeling tussen geboorte-, huwelik- en doodrekords verseker.

Met die hulp van Unicef is ‘n loodsprogram onderweg om geboortesertifikate in hospitale se kraamsale uit te reik wat landwyd ingestel sal word, laat registrasie van babas sal voorkom en op datum statistiese data beskikbaar maak. Die afgelope jaar is 93 848 identiteitsdokumente uitgereik in vergelyking met die 189 748 van die vorige jaar wat volgens die Minister ‘n aanduiding is dat die agterstand ingehaal is.

N$90 504 000 word gevra vir hierdie begrotingspos. Wat grensbeheer betref, is die Ministerie in die proses om ‘n nuwe stelsel aan te skaf wat elektroniese paspoorte kan lees en sodoende beter rekord van mense wat die land binnekom en uitgaan kan verseker.

Dié stelsel sal ook ‘n waardevolle rol speel om die beweging van mense te reguleer vir die 2010 Fifa sokkerwêreldbeker en die Afrika Nasiebekertoernooi wat onderskeidelik in Suid- Afrika en Angola plaasvind.

Oor die volgende drie jaar sal nuwe grensposte by Kashamane, Nkurenkuru, Dobe en Singalamwe opgerig word en huise sal vir personeel by Ariamsvlei, Oranjemund en Lüderitz opgerig word. Ingevolge ‘n ooreenkoms met Angola is 33 nuwe grensposte tussen die twee lande geïdentifiseer, waarvan 19 in die eerste fase en die oorblywende 14 in die tweede fase geopen sal word.

In die afgelope boekjaar is 2 225 onwettige immigrante uit Namibië gedeporteer. Die uitreiking van permitte vir buitelanders wat in Namibië kom woon of werk, word nog met die hand gedoen en bring heelwat vertragings mee. Die Ministerie is nou besig met die implementering van ‘n elektroniese proses om elektroniese visums uit te reik.

Die afgelope jaar is 8 596 werkpermitte goedgekeur, 276 verwys en 232 verwerp. Altesaam 26 permanente verblyfpermitte is goedgekeur, 24 is verwys en 21 is van die hand gewys. Burgerskap is aan 1 640 mense toegeken deur afstamming, naturalisering en registrasie. Teen volgende jaar sal die elektroniese paspoort uitreikingstelsel ook in plek wees.

Die afgelope jaar is 189 bruin paspoorte, 136 diplomatieke paspoorte, 461 maksi-paspoorte, 292 amptelike paspoorte en 36 282 gewone paspoorte uitgereik. ‘n Bedrag van N$55 396 000 word in die begroting gevra vir die afdeling immigrasiebeheer en burgerskap.

Altesaam 6 300 vlugtelinge word in vlugtelingkampe in Namibië gehuisves en 1 400 buite kampe. Altesaam 75 persent van alle vlugtelinge in Namibië is Angolese met die res afkomstig uit die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK), Burundi en Rwanda. Van die 2 000 Namibiërs wat ná die mislukte Muyongo afstigtingskomplot van Caprivi na Botswana gevlug het, het 1 163 van die Dukwe vlugtelingkamp in Botswana na Namibië teruggekeer en is met hul families herenig.

‘n Bedrag van N$1 832 000 word vir hierdie divisie gevra. Gedurende die afgelope jaar het die aanvraag vir forensiese wetenskaplike dienste drasties verhoog. Die werk van hierdie afdeling behels onder meer menslike genetika, die ondersoek van dokumente, analitiese chemie, brandstigting ondersoeke, plofstofontleding, bloedvlek patroonontleding, ballistiese ondersoeke, asook bedrog en ondersoeke na ekonomiese misdade.

Ten einde hierdie sleutelafdeling van die Ministerie beter toe te rus om hul werk te verrig, sal die Ministerie die ou Continental Hotelgebou opknap en inrig om die hele Ministerie asook die forensiese wetenskap afdeling te huisves.

‘n Bedrag van N$3 081 000 word vir die forensiese wetenskap afdeling aangevra. Die totale begroting van die Ministerie beloop N$110 198 000 waarvan 41 543 000 vir die operasionele begroting en N$151 741 miljoen vir die kapitale begroting is.