24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

24.02.2010

Veediewe sluit 20 plase

© Verskaf
Die twee foto’s wys duidelik hoe met die brandmerk, NJ, gepeuter is deur ’n groot “V” daaroor te brand.
TWINTIG plase in die Otjozondjupa-streek is reeds deur die direktoraat veeartsenydienste gesluit weens die polisie se uitgebreide ondersoek na grootskaalse beesstelery in die sentrale noorde van Namibië.

Die stelery van honderde beeste die afgelope maande is vermoedelik die werk van ’n goed georganiseerde sindikaat. Drie van die plase is die eiendom van die ontluikende kommersiële boer, mnr. Joseph Hiarunguru en sy goeie vriend, mnr. Shaun Tjiute, ’n kommunale boer.

Die twee mans is sowat twee weke gelede saam met vyf ander mans op klagte van beesdiefstal in hegtenis geneem.
© Verskaf
Volgens die databasis van die Namibiese Lewendehawe Identifikasie- en Naspeurbaarheidstelsel (Namlits), is ’n verbod verlede week op die beweging van vee vanaf of na hierdie plase afgekondig.

Namlits word deur die Vleisraad van Namibië namens die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou se direktoraat veeartsenydienste geadministreer. Die databasis bevat inligting oor plaaseienaars se geregistreerde brandmerke, die oorplaatjienommers waaraan hul diere uitgeken kan word asook die beweging van diere na en van hul plase. ’

n Bron na aan die ondersoek het gister gesê die vervalsing van permitte, ’n gepeuter met brandmerke, onwettige oorplaatjies, oorgrenstransaksies, omkopery en bedrog maak deel uit van die slinkse maniere waarop dié beesdiefstalsindikaat die afgelope maande sy spore probeer toevee het. Nog verdagtes kan dalk aangekeer word.

Beesdiewe het die afgelope maande honderde beeste met vragmotors van plase in die hart van Namibië se kommersiële boerderygebied weggery.

Sowat 40 beeste is reeds deur die ondersoekspan teruggevind wat sedert dié groot misdaaddeurbraak twee weke gelede byna dag en nag leidrade opvolg.

Die hoof van die Namibiese polisie, Insp.genl. Sebastian Ndeitunga, word daagliks oor die vordering van die span bestaande uit speurders van Okahandja, Otjiwarongo en Grootfontein ingelig.

Foto’s in Republikein se besit wat geneem is toe ’n boer verlede week van sy gesteelde beeste op ’n plaas naby Otjiwarongo uitgeken het, wys hoe die beesdiewe hul spore probeer doodvee het deur ’n ander brandmerk bo-oor die oorspronklike een aan te bring.
Daarbenewens is die oorspronklike oorplaatjies ook verwyder en met ander oorplaatjies vervang.

Dr. Alexander Toto, hoof van Namlits, het by navraag verduidelik dat die wettige oorplaatjie dié van die oospronklike eienaar is. Dit moet altyd korrespondeer met die eerste eienaar se brandmerk.

Volgens hom is dit ook onwettig om met ’n bestaande brandmerk te peuter deur dit te skend, oor dit te brand of dit te probeer verwyder. Intussen het die polisie beklemtoon dat die spekulante in wie se besit van die gesteelde beeste verlede week gevind is, onskuldige slagoffers van die sindikaat is. Mnr. Frikkies Briedenhann van Wesrand by Otjiwarongo en mnre. Dirk Potgieter en Pierre Grobler wat weiding by mnr. Bennie Woest van Sukses huur, het die beeste op ’n veiling van Agra op Grootfontein gekoop sonder dat hulle geweet het dat die beeste gesteel is.

Die laaste brandmerk op dié diere is FH9, met die “F” wat horisontaal lê en die “9” wat aan die bokant tussen die “F” en die “H” verskyn.

Luidens Namlits behoort die merk aan mnr. (Joseph) Hiarunguru. Die oorplaatjies daarenteen is geregistreer in die naam van ene Lazarus Nganjone. Die beeste was egter vir die veiling deur mnr. Tjiute aangebied.

Die Namlits-databasis toon verder dat mnr. Tjiute, ofskoon hy in ’n kommunale gebied boer, 335 oorplaatjies gekoop het. Dit word as besonder baie vir ’n kommunale boer beskou.

Die kommersiële boere wat volgens die databasis die meeste oorplaatjies bestel het, is mnre. Seef Oosthuizen en Hottie Giersch. Hulle het onderskeidelik 14 050 en 5 200 gekoop.