4.03.2010 Veediefstal maak opslae op Aranos en Klein-Aub
DIE tonge is los op Aranos nadat ’n onderwyser van dié Kalaharidorp en ’n Duitssprekende man van Swakopmund na bewering in die vroeë oggendure Sondag drie skaapkarkasse uit ’n koelkamer op die plaas van ’n bekende Aranos-boer gesteel het.
Mnre. Freddie Müller (54) van die Sekondêre Skool Rooiduin het Maandag saam met mnr. Gerhard Windisch (44) op ’n klag van diefstal in die landdroshof op dié dorp verskyn. Hulle is op borgtog van N$600 elk vrygelaat.
’n Aranos-inwoner met wie Republikein gepraat het, sê dit is ’n “baie sensitiewe” aangeleentheid. Sy wou nie meer inligting oor die beweringe teen die twee mans verstryk nie.
Volgens die polisie is Müller en Windisch Sondagoggend na die plaas Wilheben van mnr. Danie en me. Mariaan Kotzé. Die Kotzés was egter nie tuis nie. Die mans het glo sonder toestemming drie geslagte skape uit die koelkamer op die plaas gehaal, dit in hul voertuig gelaai en weggery.
Mnr. Kotzé het Dinsdag gesê omdat hy en sy familie nie tuis was nie, weet hy nie wat presies gebeur nie. Volgens hom is die ondersoek nou in die hande van die polisie.
Intussen slaak boere in die omgewing van Klein-Aub ’n sluk van verligting nadat ’n kommunale boer wat na bewering die afgelope jaar by verskeie veediefstalle betrokke was, Maandag deur die polisie aangekeer is.
Volgens adj.off. Hans Richter sou die 33-jarige man gister in die landdroshof op Rehoboth verskyn. Die man is Vrydagoggend vroeg op die pad tussen Rehoboth en Klein-Aub in hegtenis geneem toe hy met twee skape en ’n bok in sy voertuig voorgekeer is.
Die vee is na bewering op die plaas van mnr. Piet du Plessis gesteel. Hy is egter kort daarna per abuis deur ander lede van die polisie vrygelaat sonder dat adj.off Richter daarvan geweet het.
“Gelukkig het ek die verdagte (Maandag) op Rehoboth opgespoor en kon ek hom weer in hegtenis neem.”
Die beskuldigde het na verneem word oor die naweek ook sy voertuig wat Vrydagoggend saam met die gesteelde slaggoed gekonfiskeer is, gaan “terugsteel” van die perseel waar die polisie dit as bewysstuk gehou het.
Volgens adj.off Richter word die inhegtenisneming as ’n deurbraak beskou. “Groot getalle vee het die afgelope jaar op plase in die omgewing weggeraak.”
Hy sê dit het gebeur nadat dié verdagte sy intrek op ’n kommunale plaas in die omgewing geneem het.
|