24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

24.01.2012

Transitoroof op grondpad

© Republikein
’n MOBIELE bank van Bank Windhoek is gister op ’n verlate grondpad tussen Aminuis en Aranos deur twee gewapende rowers tot stilstand gedwing en van duisende dollar in kontant beroof.

Dit is die tweede transitoroof in die land binne 'n bestek van sowat twee maande.

Die bestuurder van die voertuig, ’n sekuriteitswag, sy passassier, ’n personeellid van Bank Windhoek se Aranostak, is by ’n motorhek voorgekeer deur ’n persoon wat hom as ’n padwerker voorgedoen het.

’n Tweede persoon wat ’n klapmus oor sy gesig gedra het, het uit die bosse te voorskyn gekom, die twee insittendes met ’n wapen gedreig, hul hande en voete vasgebind, hul oë toegeplak en hulle daarna langs die pad gelaat.

Die rowers het met die voertuig sowel as die N$141 320 in kontant wat in die kluis was, weggery en later met ’n ander motor verder gevlug.

Volgens die streekkommissaris van die polisie in die Hardapstreek, kommissaris Kobus Meyer, kon die sekuriteitswag daarin slaag om homself los te wikkel en hy het na die naaste plaas gestap van waar hy die bank en die polisie van die voorval in kennis gestel het.

Intussen het Bank Windhoek by monde van sy besturende direkteur, mnr. Christo de Vries, die bank se dankbaarheid uitgespreek oor die feit dat niemand in die voorval beseer is nie.

“Die veiligheid en sekuriteit van ons personeel is vir ons geweldig belangrik en ons het reeds met ’n interne ondersoek na die voorval begin.”

De Vries het ook Bank Windhoek se volle steun aan en samewerking met die polisie in die ondersoek na die rooftog beklemtoon.

Adjunkkommissaris Edwin Kanguatjivi van die polisie het die voorval bevestig. Hy wou nie enige verdere inligting verskaf nie uit vrees dat dit die polisie se ondersoek kan benadeel.

Die voorval volg op ’n transitorooftog in November verlede jaar waarin nege mense vir hul beweerde betrokkenheid by en verbintenis met die diefstal en verberging van miljoene dollar in kontant aangekla is.

Die geld was deel van sowat N$8 miljoen wat by verskeie Bank Windhoek- en Standard Banktakke op onder meer Ondangwa en Tsumeb opgelaai is.

’n Sekuriteitswag is van moord en regsverydeling aangekla nadat hy sy kollega doodgeskiet en die gepantserde voertuig waarin die geld vervoer is, aan die brand gesteek het.