
Supt. Abraham Kanime
DIE stadspolisie van Windhoek en die Katutura gemeenskapsforum begin Maandag met ’n grootskaalse skoonmaakveldtog in die omgewing waar die grusame moord van Magdalena Stoffels plaasgevind het.
Sodoende sal potensiële wegkruipplekke en plekke waar onskuldige mense voorgelê kan word, verminder word.
Die bevelvoerder van die stadspolisie, superintendent Abraham Kanime, het by navraag aan Republikein gesê die munisipaliteit het reeds ’n private maatskappy gekontrakteer om indringerbos in die omgewing uit te roei.
Hy het ’n ope uitnodiging aan enige belangstellendes gerig wat ’n bydrae wil maak tot ’n oper en skoner omgewing om hulle Maandag by die polisie aan te sluit en met die skoonmakery te help.
Superintendent Kanime het ook inwoners van ander woonbuurte in die hoofstad genooi om oorgroeide en beboste plekke waar misdadigers hulle kan skuilhou, by die polisie aan te meld sodat soortgelyke skoonmaakveldtogte daar van stapel gestuur kan word.
Hy het ook inwoners van die stad en veral meisies aangeraai om nooit alleen in beboste oorgroeide gebiede soos langs die Gammamsrivierloop te stap nie. Dit is plekke waar misdadigers geneig is om mense voor te lê en te beroof en selfs erger misdade te pleeg, soos Dinsdag die geval was, het hy gesê.
Hy het ook lede van die publiek aangeraai om dadelik met die stadspolisie in verbinding te tree wanneer hulle mense opmerk wat doelloos in droë rivierlope rondhang.
Die nommer waar die stadpolisie bereik kan word, is 302302. Hulle kan ook per SMS by 4444 gekontak word.