Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

2.09.2010

Sinnelose geweld

© Hendrik Dixon
Me. Kotie Nasilowski is gisteroggend tydens ’n rooftog by haar huis in Kleine Kuppe genadeloos deur ’n booswig aangerand.
’n WEERLOSE, tenger vrou was die slagoffer van geweld en diefstal toe sy gister onder die vuiste van ’n booswig moes deurloop.

Me. Kotie Nasilowski (40) is gisteroggend tydens ’n rooftog by haar huis in Otjikotostraat in Kleine Kuppe, Windhoek, deur ’n vermeende dief aangeval en aangerand.

Hy het haar herhaalde kere met die vuis deur die gesig geslaan en haar kop ’n paar keer teen haar motor gekap. Die bloed in die garage is ’n stille getuie van sinnelose geweld teen vroue.

Haar metgesel, mnr. Hendrik Dixon, ’n oudpolisieman, loof die polisie en G4S-sekuriteitsmaatskappy vir hul vinnige optrede.

“Vier minute nadat my vrou die paniekknoppie gedruk het, was G4S op die toneel en agt minute daarna was die polisie in die lug met die helikopter,” het mnr. Dixon gesê.

Die voorval het na agtuur gebeur toe me. Nasilowski na haar kantoor wou vertrek. Steeds in ’n geskokte toestand het sy gister aan Republikein van die voorval vertel.

“Ek het die huis toegesluit en die skootrekenaar en handsak in my motor se kattebak gesit. Ek het uit die motorhuis gekom om die hek oop te sluit en toe ek terug is in die garage, het die man agter my gestaan.”

Sy het so groot geskrik dat sy hom met die hek se slot gegooi het wat blykbaar sy woede laat ontvlam het.

“Hy het eers my bril afgeklap. Ek het besluit ek gaan nie lê nie en sy swart hemp van sy lyf geskeur. Toe slaan hy my eers op my oog en toe op my neus,” vertel die klein vrou wat maar 1,53 meter in haar skoene staan. Na die aanranding het hy haar sleutels uit haar hand gegryp en die kattebak oopgesluit en haar skootrekenaar en handsak gegryp en weggehardloop.

“Ek het so hard as moontlik om hulp geskree, maar niemand het my gehoor nie. Ek was alleen by die huis, want Hendrik ry soggens vroeg na sy werk toe.”

Sy vermoed dat die booswig haar dopgehou het, omdat ’n vreemde voorval die vorige dag plaasgevind het.

“’n Asbakkie met kleingeld by die voordeur het die vorige dag verdwyn. Ons het die asbakkie sonder die kleingeld die aand by die hek ontdek. Ek dink dis dieselfde man en ek vermoed dat hy my dopgehou het. Ek dink hy het geweet dat my maat soggens vroeg werk toe ry en ek eers na agt.”

Volgens mnr. Dixon het die polisie later haar dagboek, grimeersakkie, paspoort en geboortesertifikaat in die koppies by Kleine Kuppe gevind. ’n Beloning van N$10 000 vir die skootrekenaar is deur mnr. Dixon uitgereik.

Die skootrekenaar behoort aan me. Nasilowski se werknemer, Witvlei Meat, en belangrike dokumente van die maatskappy is op die rekenaar. Die reserwekopie van die rekenaar was in die rekenaarsak. Sy beskryf die skootrekenaar as ’n redelike ou Acer 2482-model.

Vir inligting oor die skootrekenaar, kan mnr. Hendrik Dixon by 081 127 5027 of mnr. Cassie Carstens by 081 128 0963 geskakel word.