31.01.2012 Polisie slaan vinnig toe
MOORD en verkragting het weer oor die naweek kop uitgesteek, maar die polisie het hulle goed van hul taak gekwyt en in elke geval verdagtes in hegtenis geneem.
Volgens adjunkkommissaris Sylvanus Nghishidimbwa van die polisie se skakelafdeling, is ʼn man Saterdagaand in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy swaer in Hakahana met ʼn skerp voorwerp doodgesteek het. “Hulle het glo oor geld baklei,” het hy gesê.
ʼn Verkragting het Saterdagmiddag omstreeks twee-uur in Kuisebmond plaasgevind. Volgens kommissaris Samuel Hoebeb van Erongo, is ʼn man in hegtenis geneem nadat hy na bewering ʼn 12-jarige meisie verkrag het. Volgens Hoebeb sou die man gister in die hof verskyn het.
Hoebeb het ook gesê dat hulle oor die naweek besig was met polisiewerksaamhede en dit het goed verloop. “Ons bedank graag die inwoners in hierdie streek wat gehelp het,” het hy gesê.
Die nuusagentskap Nampa het berig dat inwoners van Otjimbingwe, ʼn nedersetting in die Erongostreek, Vrydag saamgestaan het om uiting aan hul woede te gee ná die grumoord verlede Dinsdag op die 64-jarige Theresia Tsuses.
Mnr. Petrus Gaib het namens die gemeenskapslede ’n beroep op strenger vonnisse gedoen.
“Hy het ook gevra dat die 34-jarige verdagte, mnr. Gotlieb Gariseb, wat die vrou vermoedelik verkrag en vermoor het, nie borgtog kry nie,” lui die berig.
Gariseb het vlugtig in die landdroshof op Karibib op ’n klag van moord verskyn.
“Hy het na bewering die slagoffer met ʼn serp verwurg, haar na ʼn rivierbed gesleep en haar vermoor. Gariseb het daarna weggehardloop, maar inwoners het hom voorgekeer en aan die polisie oorhandig,” is gesê.
Die gemeenskap wil ook hê die ma’s van die omgewing moet nie hul seuns se borg betaal as hulle hulself aan enige misdrywe blootgestel het nie.
Volgens die berig wil hulle hê kriminele misdrywe soos diefstal deur minderjarige seuns moet ondersoek word, want groot misdade is die gevolg van klein misdade wat aanvanklik gepleeg word.
Die inwoners het ook gekla dat die polisiediens op Otjimbingwe weier om ondersoek in te stel as verdagte persone en voorvalle aangemeld word.
“Die staatsaanklaer, me. Gaynor Alberts, het gesê sy sal seker maak dat die boodskap die Aanklaergeneraal bereik,” lui die berig.
Volgens Nampa sal die saak op 24 April dien.
|