31.01.2012 Ou kalant weer agter tralies
ʼn SUID-Afrikaanse vrou wat onlangs by die grenspos op Ariamsvlei in hegtenis geneem is nadat sy met nagenoeg N$112 000 se Mandrax betrap is, is nie ’n nuweling in die dwelmbesigheid nie. Sy was in 2009 reeds aan dwelmsmokkelary in die land skuldig bevind.
Die 45-jarige vrou, ʼn gereelde besoeker in die land, is met twee pakkies Mandrax betrap, een met 2 228 tablette en ʼn ander pakkie met 13 halwe tablette.
Volgens die streek se misdaadkoördineerder, adjunkkommissaris Rudolf Isaak, is sy ʼn paar jaar gelede in die Soweto-buurt in Katutura met 499 Mandrax-tablette in hegtenis geneem. Die waarde daarvan het sowat N$25 000 beloop. Sy is in April 2009 gevonnis en volgens haar rekords is sy in November verlede jaar vrygelaat.
Sy behoort die week haar eerste hofverskyning te maak.
- Nampa
|