26.02.2010 Ondersoek na kaartbedrog kring uit
AGTIEN mense word versoek om dringend by die Handelsmisdaad-afdeling van die Namibiese polisie aan te meld in verband met kredietkaartbedrog wat in 2008 plaasgevind het. Hierdie saak word reeds sedert 2008 ondersoek nadat vliegtuigkaartjies na verskillende bestemmings in die wêreld tussen Januarie en Junie 2008 by Air Namibia met geslote of gesteelde Visa- of Master-kredietkaarte gekoop is.
In ’n mediaverklaring deur die Ministerie van Veiligheid en Sekuriteit word die mense versoek om dringend met hul paspoorte en kredietkaarte by die Handelsmisdaad-afdeling van Nampol aan te meld. Indien enige van hulle in besit van reisdokumente is, moet dit ook saamgeneem word.
Op Republikein se navraag oor waarom hierdie mense nou eers gesoek word, is gesê dat die name onlangs met die ondersoek eers aan die lig gekom het.
Die ondersoekbeampte wat verkies om anoniem te bly, sê al die kaarte wat betrokke is by die bedrogsaak is internasionale kaarte. Sy sê ook die feit dat die vliegtuigkaartjies nie direk by Air Namibia gekoop is nie, maar wel deur “agente”, om sodoende goedkoper kaartjies te kry, is ook ’n bydraende faktor daartoe dat hierdie name en transaksies ná bykans twee jaar eers ontdek is.
Die mense wat dringend by die Handelsmisdaad-afdeling van Nampol moet aanmeld, is Auguste Newaka, Clement Karimbue, Andeline Petrus, Kari Liobenbock, Giberto Kashala, Amos Redriques, Niita Kambangula, Martin Skrywer, Emmanuel Kashuupulwa, Marijke Ritmann, Maria Magdalena Modise, Anel Mojackie, Seliya Hamilton, Nepeti Nikanor, Regina Rani, Mark Mubalama, Chariotte Mojackie en Erastus Set Kamati.
Die kantore is in die Anro-gebou op die hoek van Jan Jonkerweg en Gütenbergstraat in Ausspannplatz geleë.
|