7.12.2011 Omkopery op lughawe
AIR Namibia het drie kontrolebeamptes by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako geskors wat na bewering omkoopgeld van Namibiërs ontvang het wat as asielsoekers na Kanada wou gaan.
Kanada het onlangs begin om toestromingsbeheer strenger toe te pas nadat honderde Namibiërs die afgelope maande vir vlugtelingstatus in dié land aansoek gedoen het.
Me. Theo Namases, waarnemende besturende direkteur van Air Namibia, sê die nasionale redery het in reaksie daarop ook sy kontrolemaatreëls verbeter om te verhinder dat hy die koste moet dra as mense deporteer word.
Sy het bevestig dat die drie beamptes geskors is en binnekort voor ’n tugkomitee op die klagte teen hulle sal moet antwoord.
Hulle is na bewering twee weke gelede omgekoop om die voornemende asielsoekers toe te laat om aan boord te gaan.
Kanadese immigrasiebeamptes wat in Suid-Afrika gestasioneer is, wil nou afskrifte sien van Nambiërs se paspoorte, bankstate, vliegtuigkaartjies, uitnodigingsbriewe van familie en vriende asook verblyfbesprekings voordat hulle in die buurland ’n aansluitingsvlug daarheen kan kry.
Die Toronto Sun het vroeër vanjaar berig dat meer as 400 Namibiërs in ’n kort tyd in Kanada vir vlugtelingstatus gevra het en sê die vermoede bestaan dat Namibië deel vorm van ’n smokkelnet vir vreemdelinge uit Afrika.
Namibiërs kan sonder ’n visum na Kanada gaan. Luidens die koerant voer beamptes by die Kanadese Grensdiensagentskap aan dat tot soveel as 10 tot 15 Namibiërs sommige nagte by die Pearson Internasionale Lughawe as asielsoekers registreer.
Hierdie Namibiërs voer aan hulle vlug weg van tradisionele en kulturele kwessies soos geweld teen homoseksuele, vroulike geslagsverminking en gedwonge huwelike met ouer mans.
Sodra hulle name in die register is, kry hulle ’n datum waarop hul aansoek gehoor sal word. Tot dan kry hulle ’n maatskaplike toelaag, gesondheids- en tandeheelkundige dienste en gesubsidieerde behuising.
|