’n TWEEDE moord in minder as drie dae het Keetmanshoop geskud. Die moord op me. Petrina Hendrika Isaak (39) gister volg op die van mnr. Pieter Jacobs afgelope Sondag (berig hiernaas).
Isaak se lyk is by die begraafplaas in die Tseiblaagte-woonbuurt deur haar suster ontdek. Die moord het tussen middernag en 06:00 gebeur, het hoofinspekteur Bennie Groenewald van Keetmanshoop gesê.
Groenewald het gesê Isaak het die vorige aand by haar suster in Tseiblaagte gekuier, waar die oorledene ook gewoon het. “Isaak se suster en die se voormalige kêrel het later vir Isaak halfpad huis toe vergesel. Die suster en ekskêrel het by die begraafplaas omgedraai. Toe Isaak nie haar selfoon beantwoord nie, het haar suster onraad vermoed en haar gaan soek.”
Groenewald sê die polisie is deur die suster in kennis gestel en was om 06:00 op die toneel.
Die polisie vermoed dat die vrou verwurg is, maar die nadoodse ondersoek moet nog uitgevoer word om die presiese oorsaak van haar dood te bepaal.
“Die oorledene het nog haar klere aangehad en dit was nie geskeur nie, maar haar skoene en selfoon was nie meer by haar nie,” het Groenewald gesê. Die oorledene het ook geen sigbare merke op haar lyf gehad nie.
Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie en die polisie se ondersoek duur voort.