
Wyle Magdalena Stoffels
LEEGLÊERS soos die verdagte moordenaar van die 17-jarige Magdalena Stoffels was aan leerlinge van die Hoërskool Dawid Bezuidenhout bekend en het glo ’n skrikbewind teen veral meisies in dieselfde droë rivierloop gevoer waar hy gister weens ’n grumoord met behulp van die polisie en ooggetuies in hegtenis geneem is.
Die vermeende grumoordenaar wat vandag in die hof moet verskyn, is gister in ’n opsienbare wending deur ’n graad-8 skoolmeisie aan die hand van koerantfoto’s geïdentifiseer as die rower wat haar dae tevore op byna dieselfde plek met ’n mes teen die keel van ’n selfoon beroof het.
Die skokonthulling gister het die verhaal laat ontvou van die getraumatiseerde en geskokte Dawid Bezuidenhout skoolgemeenskap wat steeds in rou oor die gruwel is wat selfs reaksie van buite Namibië se landsgrense ontlok het.
’n Graad 8 leerling, Sharon Muulu, het vertel dat sy ’n ruk gelede deur die beskuldigde beroof is. Sy en ander netbalspelers het na ’n wedstryd deur die river kortpad gevat en Junior Phillipus was glo daar saam met nog ’n man. Phillipus het haar glo van agter gegryp en teen die grond vasgedruk.
Hy het ’n skerp mes teen haar keel gehou en gesê sy moet haar selfoon gee. Sy het dit gedoen en in vrees vir haar lewe weggehardloop.
Die kinders het bevestig dat die verdagte aan hulle bekend is en ook gesien is op die plek in die riverloop waar Magdalena sterwende gevind is.
Volgens hulle het die verdagte en ander mans gereeld daar geloop of gesit en aanmerkings gemaak soos “lig vir ons jou romp op”.
Die mans het in die verlede ook hulself aan die skoolkinders ontbloot. Die kinders vertel dat die mans ook in die riverloop gemasturbeer en kondome in boomtakke opgehang het.
Gisteroggend het emosies onder leerlinge van Dawid Bezuidenhout en die inwonersgemeenskap van Funkytown in Khomasdal steeds hoog geloop ná die grumoord.
Met Republikein se besoek gister aan die skool was vele emosies te bespeur. Daar was trane in die oë van leerlinge en onderwysers wat nog sukkel om uit die tragedie sin te maak.
’n Skoolmaat wat laaste by Magdalena was, het gesê dat hulle voor skool nog tot by die skool geloop en oor algemene dinge gesels het. Toe die eerste skoolklok lui, het elkeen na haar onderskeie registerklas gegaan. Sy het gesê dat sy later die oggend ’n ambulans buite die skool gesien het, en sy en ’n onderwyser het ondersoek gaan instel.
Sy en ’n paar ander het die liggaam gesien, maar kon nie Magdalena se gesig identifiseer nie. Hulle het in haar skooltas gekyk om te sien in watter graad sy was. Hulle het toe in die kantoor van die skool gaan uitvind wie die dag afwesig was en het klaskapteine ingeroep om deur ou skoolfoto’s te gaan. Dit is toe dat hulle agterkom dat die meisie in die rivierloop Magdalena was.
Die skoolhoof, mnr. Johannes Hill, het almal in die skoolsaal laat byeenkom en hulle die nuus meegedeel. Die skoolmaat sê dat sy sedertdien sukkel om te slaap en dat die beeld van Magdalena se bewustelose liggaam deur haar kop maal.
Die leerlinge meen die doodstraf moet teruggebring word sodat dit voornemende verkragters en moordenaars sal afskrik.
Die meisies het gesê hulle sal graag ’n paar vrae aan die moordenaar wil vra, soos “hoe kan jy ’n hulpelose meisie verkrag en wat laat iemand een oggend opstaan en besluit vandag vermoor ek iemand?”
Die seuns het gesê Magdalena was ’n baie liefdevolle mens en dat so iets met haar moes gebeur, is iets vreeslik. Talle van die seuns vrees nou vir hul eie susters se veiligheid. Sonder die doodstraf is die leerlinge van mening dat die howe nie verkragters en moordenaars swaar genoeg straf nie.
“Hoekom word veediewe swaarder vonnisse opgelê as moordenaars en verkragters wat net weer dieselfde misdaad sal pleeg wanneer hulle uitkom? Is ’n bok of bees se lewe dan meer werd as ’n mens s’n?” wou hulle weet.