24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

16.02.2012

Kuberkrakers steel miljoene

© Republikein
NAGENOEG twintig gebruikers van Bank Windhoek se internetbankdienste het tussen Augustus en Desember verlede jaar miljoene dollar verloor nadat dit vermoedelik deur ’n internasionale kubersindikaat uit hul rekenings onttrek is.

Sowat N$1,2 miljoen is tydens een internettransaksie by ’n enkele slagoffer gesteel. Dié Windhoekse sakeman was vanweë die finansiële knou nie in staat om sy werknemers einde verlede jaar te betaal nie en kan nie sy sakebedrywighede voortsit nie.

’n Ander slagoffer moes een nag toe hy wou vasstel of ’n verwagte inbetaling gedoen is, vasstel dat twee van sy rekenings leeg gesteel is terwyl die diewe ook sy oortrokke fasiliteit tot die limiet oortrek het.

Hy het dit sonder versuim aangemeld en versoek dat sy rekening sowel as die twee rekenings waarheen die geld oorgeplaas is, gevries word.

’n Klein persentasie van die gesteelde geld is na ’n rekening by Bank Windhoek oorgeplaas terwyl die grootste deel daarvan na rekeninge by ander bank gevloei het.

Hy is egter die grootste gedeelte van die buit kwyt omdat die diewe dit toe reeds in kontant uit ’n bank in Suid-Afrika onttrek het.

Mnr. Chris Matthee, uitvoerende beampte van Bank Windhoek se kleinhandelbankdienste, sê handelsbanke wêreldwyd is voortdurend in die visier van kuberkrakers se nuutste slenters.

Hy het die aanslag op kliënte van banke in Namibië bevestig en die versekering gegee dat die bank se veiligheidstelsel vir internetbankdienste gereeld aan streng oudits deur onafhanklike derde partye onderwerp word. Volgens hom is die integriteit van die stelsel bo verdenking.

Hy het beklemtoon dat sulke voorvalle nie tot Bank Windhoek beperk is nie, maar dat kliënte van alle banke deurlopend teikens is.

Me. Marlize Horn, uitvoerende beampte van bemarkings- en korporatiewe kommunikasiedienste, het intussen in ’n verklaring benadruk dat Bank Windhoek alles in sy vermoë doen om internetsekuriteit deurlopend deur skeppende en proaktiewe maatreëls te verbeter sodat kliënte dié gewilde kanaal vir saketransaksies in veiligheid kan gebruik.

“Bank Windhoek kon in talle gevalle bedrog betyds identifiseer en verhinder en sodoende voorkom dat kliënte finansiële verliese ly.” Sy wys daarop dat Bank Windhoek voortdurend sy veiligheidstelsels monitor, toets en opgradeer.

Hierbenewens bestee die bank jaarliks honderde duisende dollar aan inligtingsveldtogte in die media en by handelskoue oor al die nuwe slenters waardeur kuberkriminele kliënte met oortuigende e-posse en SMS’e uitlok om hul persoonlike inligting te verklap. Sy sê elke keer as ’n nuwe slenter die lig sien, word kliënte ingelig en gewaarsku om nie daarmee ingeloop te word nie.

“Ons het sedert die begin van hierdie jaar reeds drie persverklarings uitgereik waarin kliënte oor sulke slenters gewaarsku is, terwyl ons gereelde Money Mattersrubriek ook kort-kort die nuutste phisvang-bedrogskemas bespreek.”

Volgens haar maan groot plakkate in takke en waarskuwingsbaniere op die bank se webwerf ook hierteen.

Horn sê elke geval wat aangemeld is, word individueel deur die bank se forensiese ouditeure ondersoek, terwyl dit ook by die Bank van Namibië (BoN) aangemeld word.

“Die ondersoek het uitgewys dat elkeen van die slagoffers se persoonlike inligting en rekeningbesonderhede deur bedrogskemas in die hande van die kuberkrakers beland het en die bank se stelsel kan nie daarvoor geblameer word nie.”

’n Woordvoerder van vier van die slagoffers wat glo tussen hulle bykans N$3 miljoen verloor het, sê nie een van hulle het ’n verdagte e-pos oopgemaak of hul geheime kodes bekend gemaak nie.