3.09.2010 Jaagtog soos op TV eindig in chaos
 Die bakkie wat deur ’n vertoonvenster van Lic Pools in McAdamstraat gebars het ná dit teen ‘n muur en ‘n ander voertuig gebots het. Die bestuurder en sy passasier is beseer en het noodbehandeling in die ambulans in die agtergrond ontvang voor hulle na die hospitaal geneem is.
‘n ONGELUK ná ‘n wilde jaagtog deur die besige verkeer van Windhoek se sentrale sakegebied het twee mense in die hospitaal laat beland. Twee voertuie en ‘n sakeonderneming is erg beskadig gelaat.
Die jaagtog het ontstaan toe die bestuurder van ‘n rooi Isuzu-bakkie by ‘n spoedhobbel in Jan Jonkerweg liggies van agter teen ‘n duur Nissan-bakkie vasgery het. Die bestuurder van die Isuzu het geweier om stil te hou en die bestuurder van die Nissan Navara het hom agternagesit.
Toe bestuurder van die Isuzu besef hy word agtervolg, het hy al vinniger gery. Hy het in Guthenbergstraat afgedraai en toe weer in McAdamstraat naby Ritter’s Toyota ingery.
Hier het hy met sy bakkie teen die stoep van ‘n sakeonderneming vasgejaag waarna hy toe van agter teen ‘n splinternuwe Toyota Corolla vasgery het.
Die tweede botsing het die man beheer oor sy bakkie laat verloor en hy het deur die ’n vertoonvenster van Lic Pools gebars.
Die man wat die bakkie bestuur het, het ‘n rugbesering opgedoen terwyl sy passasier sy been gebreek het.
Die bestuurders van die Nissan Navara en die Corolla moes op die toneel van die ongeluk verklarings aan die polisie gee. Die twee insittendes van die Isuzu-bakkie het noodbehandeling van paramedici in ‘n ambulans ontvang.
Werknemers van verskillende sakeondernemings in die straat het die ongelukstoneel toegestaan terwyl die bestuurders van verskillende insleepdienste mekaar glo rondom die ambulans vertrap het om toestemming te kry om die beskadigde voertuig weg te sleep.
‘n Polisiebeampte op die toneel het gesê hy vermoed dat die twee mans in die Isuzu-bakkie dalk onder die invloed van sterk drank was en dat dit moontlik die oorsaak van die ongeluk kon wees.
|