24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

28.07.2010

Gruwel in moordrivier

© Floris van Schouwenburg
'n Beampte van die stadspolisie begelei die verdagte in die gruwelmoord na die hospitaal sodat genetiese monsters van hom geneem kan word.

TERWYL ’n groep inwoners van Khomasdal buite die Katutura hospitaal op die bloed van ’n verkragter aangedring het, was die ma van ’n jong skoolmeisie ontroosbaar in die gange van die hospitaal nadat sy gehoor het haar dogter is dood.

Die jong meisie het op pad van haar skool ’n marteldood gesterf deurdat sy verkrag en haar keel wreedaardig met ’n gebreekte bottel afgesny is.
© Verskaf
Wyle Magdalena Stoffels.
Die 17-jarige Magdalena Stoffels, ’n leerling aan die Sekondêre Skool Dawid Bezuidenhout, was gister op pad huis toe ná sy by die skool siek geword het, toe sy in ’n rivierloop naby Andrew Kloppersstraat oorkant die Woermann Hyper inkoopsentrum in Khomasdal aangeval is.

’n Verbyganger wat deur die rivierloop gestap het, het op die meisie met die afgesnyde keel en ’n geskeurde skooluniform afgekom. Sy het erg gebloei en hy het gaan hulp soek. Die man het die aandag van ’n verbygaande polisievoertuig getrek om mediese hulp te ontbied.

Die meisie is per ambulans na die Katutura staatshospitaal geneem, maar kort na haar aankoms het dokters haar dood verklaar.

Wakker optrede deur die inwonersgemeenskap en die stadspolisiehet toegesien dat ’n man kort na die voorval in hegtenis geneem is. Nuuskieriges by die toneel het ’n man dieper in die rivierloop gesien en die polisie in kennis gestel.

Die polisie het ondersoek gaan instel en ’n man gekry waar hy besig was om sy klere in ’n poel water te was. ’n Bebloede baadjie is in die man se besit gekry en die verdagte, Junior Phillipus, is op die daad in hegtenis geneem.

Die polisie het die man na die Katutura hospitaal geneem sodat genetiese monsters as bewysstukke van hom verkry kon word.
© Floris van Schouwenburg
’n Groep protesteerders by die Katutura hospitaal het die bloed van ’n man geëis wat daarvan verdink word dat hy ’n 17-jarige skoolmeisie verkrag en wreedaardig vermoor het.

Die nuus van die jong meisie se verkragting en dood het soos ’n veldbrand deur die gemeenskap van Khomasdal versprei.

’n Groep wat hoofsaaklik uit vroue bestaan het, het na die hospitaal opgeruk om die bloed van die verdagte te eis. Dramatiese tonele het by die staatshospitaal in Katutura afgespeel toe die vrouegroep met plakkate aangedring het dat die verdagte gehang moet word.

In hul protesskrif het die mense aangedui dat veediewe swaarder strawwe as moordenaars en verkragters opgelê word en dat die stand van sake hulle glad aanstaan nie. ’n Video waarop die oproerige protesteerders by die hospitaal hul woede laat blyk, was kort na die middaguur gister reeds op die webwerf.

Die protesgangers het geëis dat die polisie die verdagte te voorskyn bring en toe nie aan hul versoek voldoen is nie, het die groep oproerig geraak. Lede van die polisie se spesiale reserwemag en die spesiale veldmag het die oproerigheid gemonitor.
© Floris van Schouwenburg
Die verdagte word deur die polisie deur die Katutura Hospitaal begelei.

Terwyl die beskuldigde binne in die hospitaal was, was die polisie genoodsaak om die ingange van die gebou te verseël om die wraaksugtige oproeriges buite te hou. Die polisie was ook genoodsaak om die verdagte deur die kelderverdieping van die hospitaal uit te smokkel sodat hy na die selle geneem kon word. ’n Groen lap is oor sy kop gegooi om sy gelaatstrekke van die oproeriges te versteek.

Die protesgangers was aanvanklik ontevrede omdat die man nie aan hulle uitgelewer is nie, maar het uiteindelik vreedsaam uitmekaar gegaan.

Die skoolhoof van Dawid Bezuidenhout, mnr. Johannes Hill, het gesê die oorledene was ’n baie skrander leerling. Die skool was genoodsaak om gister ’n pastoor te ontbied om die ander leerlinge van berading te voorsien.
© Floris van Schouwenburg
Protesteerders eis die doodstraf vir die moordenaar van Magdalena Stoffels op die perseel van die Katutura hospitaal.

Gevaarligte flikker lankal
 
Familie en vriende van Magdalena Stoffels het gister rondom haar ouers laer getrek om die hartseer en gruwel van die jong meisie se moord te help verwerk.

Die afgelope drie weke het stories in die Funkytown-woonbuurt van Khomasdal begin loop dat meisies in die omgewing verkrag word.

Vriende van die familie het toe reeds gewaarsku dat haar ouers op hul hoede moet wees.

’n Verslae me. Magrieta Ihuhua, Magdalena se ma, het gistermiddag vertel dat sy ná die waarskuwing na die polisie gegaan het en die beamptes versoek het om die stuk veld waar haar dogter gister wreedaardig verkrag en vermoor is, te beveilig.

Me. Ihuhua het moedig teen die hartseer geveg en het strak vertel dat haar dogter se dood hopelik die aandag op sinlose geweld teen vroue en kinders sal vestig.
© Floris van Schouwenburg
Protesdeerders buite die hospitaal.

"Die polisie sal beslis iets moet doen om ander moeders en families teen die pyn van dié soort geweldsmisdaad te beskerm. Polisiepatrollies moet in die omgewing gedoen word, spesifiek voor en ná skool om kinders te beskerm.”

Me. Ihuhua het vertel dat haar dogter ’n stil en rustige kind was wat nooit probleme gegee het nie. Sy was intelligent en het goeie punte op skool behaal. Magdalena was volgens haar ma baie kunstig en het in binnehuisversiering en juweelontwerp belang gestel. Sy het ook van musiek gehou en het in die skoolkoor gesing.

Volgens die hartseer moeder was Magdalena nie ’n sieklike kind nie, maar het sy eergisteraand olik gevoel. Sy is gister tydens die tweede periode met toestemming van die skool huis toe om te gaan aansterk. Skaars ’n honderd meter van die skoolhek het haar moordenaar haar oorval.

Die stuk veld waar Magdalena aangeval is, is bekend vir misdaad. Ooggetuies op die moordtoneel het vertel van aanvalle en roof wat bykans op ’n daaglikse basis plaasvind op hierdie veld wat as kortpad gebruik word.

Juis daarom is Magdalena al in die verlede deur haar ouers gewaarsku om versigtig te wees as sy hierdie roete huis toe volg.

Magdalena laat haar ouers en twee broers agter.
© Floris van Schouwenburg
Protesdeerders buite die hospitaal.