24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

4.03.2010

Grensgeveg oor beeste

• Rowerbende lei taakmag in AK-47-hinderlaag
• Gewondes uit Zambië afgevoer

© Ronelle Rademeyer
Die hoof van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, gister in sy kantoor waar hy besig is om die verslag oor Sondag se insident te bestudeer.
TWEE lede van die Namibiese taakmag is swaar gewond toe hulle deur gewapende rowerbende wie se spore hulle oor die grens na Zambië gevolg het, in ’n lokval gelei en daar met AK-47’s op hul losgebrand is.

Die twee polisiemanne was deel van ’n agtmanspan van dié spesiale eenheid wat die bende agterna gesit het wat 24 beeste by Sibinda in die Caprivi gesteel het. Die aanval is gistermiddag deur die hoof van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, bevestig. Dit het laat Sondagmiddag plaasgevind.

Polisieversterkings uit Katima Mulilo kon die gewondes egter eers Maandag bereik omdat daar nie radio- of selfoonverbinding was nie.

Altwee die gewonde taakmaglede is intussen vanaf Katima Mulilo na Windhoek gevlieg waar hulle in die Rooms-Katolieke hospitaal behandel word. Die een is in die bors en maag geskiet en bevind hom in die intensiewesorgeenheid. Hy het Dinsdag met ’n ambulansvlug in Windhoek aangekom.

Dié konstabel, wat op versoek van die polisiehoof nie geïdentifiseer word nie, het gister uit sy hospitaalbed aan Republikein gesê dit gaan al beter met hom. Volgens matrone Bernadette Shipanga is hy “steeds baie siek”, maar is sy toestand stabiel. Sy kollega, wat gistermiddag met die polisie se helikopter na Windhoek gebring is, is in die linkerarm geskiet.

’n Ortopediese chirurg sou hom gistermiddag ondersoek om te bepaal hoe ernstig sy besering is. Volgens lt.genl. Ndeitunga het ’n gewapende rowerbende uit een van die buurlande Sondag 24 beeste in die Sibinda-kiesafdeling sowat 64 km wes van Katima Mulilo gesteel.

Die driemanbende het twee AK-47 aanvalsgewere by hulle gehad. Ofskoon die veewagter ook gewapen was, het die bende hom oorrompel en sy geweer afgeneem. ’n Skoot is na die veewagter gevuur, maar hy is nie getref nie.

Nadat die rowers met die beeste vort is, is die polisie op Katima Mulilo oor die voorval ingelig. Die polisiehoof sê dieselfde bende het vier dae tevore ses ander beeste in dieselfde omgewing gesteel en ook oor die grens gejaag.

Ofskoon polisiemanne dadelik in die gebied ontplooi is, kon hulle nie die beeste terugvind nie. ’n Taakmagspan van agt lede het dadelik nadat die voorval Sondag gerapporteer is, die bende agterna gesit.

“Omdat die grens tussen Namibië en Zambië in dié gebied nie duidelik afgebaken is nie, het hulle nie besef hulle steek die grens oor en bevind hulle in Zambië nie. Intussen moes die bende hulle waarskynlik hoor kom het, want hulle het ’n hinderlaag gestel en op ons manne losgebrand. In die proses is twee van ons mense gewond.”

Lt.genl. Ndeitunga sê omdat daar geen radio- of selfoonontvangs in die gebied is nie, kon hulp nie ontbied word nie.

“Van die taakmaglede het by die gewondes gewag terwyl die ander hulp gaan soek het. Een van die manne het in die proses verdwaal. Hy is Maandag deur die polisie se helikopter opgespoor toe versterkings ingestuur is om ons mense te gaan uithaal.”

Volgens die polisiehoof is die Zambiese polisie van die voorval in kennis gestel.

“Een van hul lede het saamgevlieg om ons mense te gaan haal.”

Net ses van die gesteelde beeste is intussen teruggevind. Lt.genl. Ndeitunga sê dit is nie bekend of die rowerbende van Angola of van Zambië kom nie. Hy sê kommunale gemeenskappe teenaan die grens word reeds geruime tyd deur rowerbendes geteister en geïntimideer. Dit is egter die eerste keer dat ’n rowerbende met aanvalsgewere toeslaan.

“Namibië kry goeie samewerking van Zambië. Ons is hard besig om hierdie euwel uit te roei.”