24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

4.03.2010

Drie sterf in nagmerrie-naweek op Rehoboth

BOENDOEGEREGTIGHEID op Rehoboth het tot die moord op twee jong broers asook die steniging van ’n derde man gelei in wat ’n swart naweek vir inwoners was.

In die een voorval is twee broers, Phillipus (22) en Petrus Kinda (19), Vrydagnag tydens ’n geveg met ’n onbekende getal mense met messe en pangas vermoor. Ewe skokkend was toe Raynod Cloete (28) in Blok F met klippe doodgegooi is.

Vyf verdagtes is vir die twee broers se moorde in hegtenis geneem. In die geval van die steniging van mnr. Cloete is ook vyf verdagtes agter tralies. Adjudant-offisier Boytjie Eiman was die ondersoekbeampte in beide hierdie voorvalle.

Die hof het Maandag al hierdie sake tot 22 April uitgestel en borg is nie aan enige van die verdagtes toegestaan nie. Vrydag omstreeks 02:15 het ’n inwoner die polisie gebel en gesê hy vermoed daar word by Furn Mart ingebreek, want hy het gehoor hoe breek ’n ruit.

Sersant Richard Mbala en konstabel George Bormann het hulle na die toneel gehaas. Terselfdertyd het konstabels Hendrik Useb en Nicolaas Mbangu die sowat 800 m vanaf die polisiekantoor te voet na die winkel afgelê.

Met die polisie se aankoms daar het hulle vier mans op heterdaad betrap wat besig was om platskerm-televisiestelle te probeer steel. Een man, vermoedelik die bestuurder van die voertuig, is in die wit Toyota Corolla met registrasiemerk N79548W betrap.

Die ander drie het die televisiestelle neergesit en laat spaander. Die polisie het ’n paar waarskuwingskote afgevuur. Twee van die diewe is in hegtenis geneem, terwyl die derde een weggekom het.

Een van die diewe was vroeër vanjaar ook betrokke by die inbraak by Radio 90.3 Live waar toerusting gesteel en later deur die polisie teruggevind is. Die man is toe op borg vrygelaat. Hy was ook op borg van N$10 000 vrygelaat nadat hy betrokke was by ’n gewapende rooftog by die Solitaire Lodge ’n paar jaar gelede.

Die polisie het beslag gelê op die gesteelde voertuig. Die waarde van die televisiestelle is N$22 000 en die gebreekte ruit sowat N$4 500. Mnr. Graham Diergaardt, bestuurder van Furn Mart op Rehoboth, was vol lof vir die flinke polisie-optrede.

Daar is voorheen al ’n paar keer by die winkel ingebreek. Saterdagaand omstreeks tienuur het ’n petroljoggie by mnr. Harry Diergaardt se diensstasie met N$40 000 kontant verkas. Hy was teen gister nog nie opgespoor nie.

Nog ’n sakeman met ’n vermaaklikheidsentrum, mnr. Ralph Rittman, was N$33 000 en ’n skootrekenaar kwyt toe een van sy werknemers teen sluitingstyd omstreeks twee-uur Sondagoggend met die buit laat spaander het.

Nog twee mans was Sondagaand agter slot en grendel toe sersant Silas Nuuyoma hulle eiehandig in hegtenis geneem het ná hulle skynbaar onder die invloed van alkohol was en met ’n gesteelde Daihatsu Chirade teen die relings van ’n brug sowat sewe kilometer buite Rehoboth vasgery het.

Die bevelvoerder van die Rehoboth-polisie, inspekteur Marchelle Diergaardt, het later die middag self ingegryp by hierdie ongelukstoneel waar ’n sakboekie voor in die motor hom na die eienaar daarvan gelei het.

In die boekie was ’n aantekening oor die Namibiese Rolbal-unie en inspekteur Diergaardt kon na navrae by die unie die eienaar, me. Anna Bekker, opspoor. Die voertuig staan nou op die werf van die polisiekantoor van Rehoboth.

Me. Bekker het aan die polisie gesê die twee mans het by haar huis in Windhoek aangekom en gevra of sy oorleikabels het, want hulle wou hul voertuig aan die gang kry.

Sy het aangebied dat hulle haar motor kan neem en dit was amper die laaste sien van die blikkantien. Maandag was die twee mans onder polisiebewaking in die hospitaal op Rehoboth vir die behandeling van hul beserings. Hulle sal na hul ontslag in Windhoek aangehou word waar die motor gesteel is om daar in die hof te verskyn.

Insp. Diergaardt het aan Republikein gesê skurke moet maar liefs wegbly van Rehoboth.

“Hulle wil nie hoor nie, maar ek waarsku weer. Ons span het verlede jaar en onlangs groot welslae behaal met blitsige optrede en ons gaan nou nog strenger optree en gereeld skoonmaakoperasies uitvoer. Ons wil Rehoboth skoonvee.”