
Dié prentjie van sers. Bruno Eiseb van die speurtak van Nampol op Otjiwarongo spreek boekdele.
DIE Namibiese polisie is Sondagaand net na negeuur in ’n groot verleentheid geplaas toe ’n polisieman in ’n ooglopend beskonke toestand agter die stuurwiel van ’n polisievoertuig betrap is. Sy rooi Isuzu-bakkie met die registrasiemerk POL 6291 wat aan die polisie se plofstofeenheid toegeken is, het op die skouer van die Westelike Verbypad gestaan.

’n Lid van die Windhoek stadspolisie het lank gesukkel om sers. Eiseb so ver te kry om op sy blaaspypie te blaas.
Die voorkant van die voertuig was redelik ernstig beskadig. ’n Groot aantal nuuskierige padgebruikers het gestop om na die spektakel te kyk en te sien hoe die stadspolisie wat op die toneel was, sukkel om die man wakker te kry.
Die man agter die stuur van die polisievoertuig is as speursersant Bruno Eiseb van die speurtak op Otjiwarongo geïdentifiseer. Toe die polisie op die toneel uiteindelik daarin slaag om die man tot sy positiewe te bring, kon hy beswaarlik op sy voete staan. Verskeie pogings het misluk om hom die blaaspypie te laat blaas wat gebruik word om die alkoholvlak in sy bloed te toets.

Die polisievoertuig waarmee sers. Eiseb gery het, se voorkant was redelik ernstig beskadig.
Republikein het gister probeer vasstel of sers. Eiseb in hegtenis geneem en van dronkbestuur aangekla is, maar kon teen druktyd geen aanduiding kry nie.
Dit is net bevestig dat hy van die speurtak op Otjiwarongo is, maar dat hy op die oomblik ’n kursus in Windhoek bywoon. Navraag by die aanhoudingselle in Windhoek het aangedui dat hy nie daar opgeneem is nie.
’n Woordvoerder van die stadspolisie van wie se lede van die misdaadvoorkomingseenheid ook op die toneel was waar sers. Eiseb agter die stuur van die beskadigde voertuig gekry is, het bevestig dat lede van Nampol op die toneel, die saak oorgeneem het.