JALOESIE in ’n klaarblyklike liefdesdriehoek agter die tralies was glo die motief vir die moord op ’n gevangene wat Woensdag helder oordag in die Windhoekse sentrale gevangenis gepleeg is.
’n Man wat vermoedelik ’n seksuele verhouding met een van die twee beweerde moordenaars wou beëindig, is doodgesteek met ’n skerpgemaakte metaalvoorwerp wat van die onderkant van ’n besemstok verwyder is.
Volgens die koördineerder van misdaadondersoeke in die Khomasstreek, adjunkkommissaris Sylvanus Nghishidimbwa, is die oorledene ’n paar keer met die voorwerp gesteek waarna hy op die toneel gesterf het. Die voorval het tussen 13:00 en 14:00 in sel nommer 7 plaasgevind.
“Terwyl ’n normale mens ’n besem as ’n skoonmaakartikel sien, sien ’n krimineel ’n besem as ’n wapen,” het Nghishidimbwa verduidelik. “Rehabilitasie is ’n doelwit om tot die ontwikkeling van Namibië by te dra. Is daar dan ’n toekoms vir rehabilitasie in ons stelsel van korrektiewe dienste as sulke dinge gebeur?”
Een van die verdagtes is in aanhouding vir verkragting en die ander vir ontsnapping uit aanhouding en word dus as betreklik geharde kriminele gereken.
Hulle sal waarskynlik vandag in die hof op aanklag van moord verskyn.
Die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, mnr. Nangolo Mbumba, het tydens die Ministerie se eindjaarfunksie van 2011 sy kommer oor die veiligheidsituasie in gevangenisse uitgespreek.