24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

1.02.2012

Bedrogspul ontmasker



’n INTERNASIONALE skenkersorganisasie wat beweer hy staan reg om miljarde dollar vir humanitêre ontwikkeling aan Namibië beskikbaar te stel, is deur die Ministerie van Finansies as ’n bedrogspul ontmasker.

Dit volg nadat dié organisasie, Fundacion Donaciones Humanitarias, die Ministerie versoek het om ’n brief van voorneme uit te reik waarin die Regering sy deelname aan die organisasie se skenkingsprogram in Namibië beloof.

Republikein is in besit van ’n brief (foto) wat op 23 Januarie deur die Adjunkminister van Finansies, mnr. Calle Schlettwein, aan me. Mietha Blaauw, die organisasie se verteenwoordiger in Namibië, gestuur is.

“Die Ministerie van Finansies het u versoek vir ’n brief van voorneme om deel te neem aan die skenkingsprogram van Fundacion Donaciones Humanitarias ondersoek en dit was nie moeilik om inligting te vind wat die betrokke program as ’n bedrogspul ontmasker nie,” lui die brief.

Die Suid-Afrikaanse owerheid ondersoek volgens inligting ook die organisasie en die mense wat daarby betrokke is.

Op 19 September 2011 het Consumer Watchdog, ’n verbruikersgroep in Botswana, inwoners teen die organisasie en die vermeende baasbrein, ene Sir Edward Cooper, gewaarsku.

Cooper voer volgens die waghondliggaam aan hy is deur Brittanje se Koningin Elizabeth II tot ridder geslaan, maar geen inligting is beskikbaar om dit te staaf nie. Daar word vermoed hy is in werklikheid ’n Amerikaner, Harold Gregg, wat met verskeie bedrogskemas verbind word.

Blaauw, ’n onderwyseres van Katima Mulilo, het gister by navraag gesê sy sal “dadelik vir New York en Interpol” moet laat weet dat inligting oor Fundacion Donaciones Humanitarias in Namibië bekend geword het.

“Volgens protokol mag geen inligting oor die organisasie en sy werkwyse in die media gepubliseer word nie,” het Blaauw geantwoord toe sy oor haar betrokkenheid daarby gevra is.

Mnr. George Tolmay, Fundacion Donaciones Humanitarias se verteenwoordiger vir Afrika, het bevestig dat hy Blaauw aangestel het om hul belange in Namibië te bevorder. Hy woon op Bela-Bela in Suid-Afrika se Limpopo- provinsie.

Op ’n vraag oor hoeveel geld die organisasie al aan Afrika geskenk het, het hy geantwoord: “Nog niks nie, want hulle wil nie instem om ons reëls te gehoorsaam nie.”

Die reëls behels dat “geen, maar geen korrupsie” mag plaasvind nie en dat geen regeringsamptenare betrokke mag wees nie, sê hy.

In antwoord op die vraag oor wanneer Fundacion Donaciones Humanitarias beoog om die geld aan Namibië beskikbaar te stel, het Tolmay gesê: “Ons het vanoggend weer met julle Adjunk(minister) van Finansies gepraat en hy het belowe om teen volgende week vir ons terugvoering te gee.

“Geen geld kan na Namibië oorgeplaas voordat die Regering instem om saam te werk nie, omdat dit deur die Bank van Namibië moet geskied.”

Intussen het mnr. Jakkals Pretorius, wat vir jare ’n bekende motorhandelaar in Windhoek was, bevestig dat hy deur Blaauw genader is om die samesprekings met die Ministerie te voer. Hulle het al voorheen sake gedoen, sê hy.

Blaauw tree glo ook op as ’n tussenganger in goud- en diamanttransaksies tussen verkopers uit Afrika en kopers in Dubai.