31.08.2010 Bedrogsindikaat ontmasker
DIE werksaamhede van ‘n bedrogsindikaat wat werknemers van handelsbanke insluit is in die noorde van die land oopgevlek.
Die sindikaat werk op die beginsel van bestellings wat oor die telefoon geplaas word en betalings wat deur middel van inbetalings by sake-ondernemings se bankrekeninge gedoen word.
Volgens mnr. Marco van den Heever, die eienaar van Direct Auto Parts op Oshakati, was hy die afgelope drie weke die slagoffer van die diefstalsindikaat. Die sindikaat se werksaamhede is egter die naweek aan bande gelê toe die polisie van Oshakati by die voorkoming van die bedrog betrokke geraak het en minstens een persoon deur die loop van die naweek in hegtenis geneem is.
“So twee weke gelede het die mense ons geskakel met ‘n bestelling van sowat N$25 000. Die bestelling het hoofsaaklik buitebande vir motors behels.
Hulle het ooreengekom om die koopbedrag in ons rekening in te betaal en dan sou hulle ‘n verteenwoordiger stuur om die goedere by die onderneming te kom oplaai.”
Volgens mnr. Van den Heever is die bankstrokie met die korrekte bedrag aan die onderneming deurgefaks en die bestelling is voorberei. In die tussentyd het die sindikaat met die samewerking van hul banktellermakkers die bedrag op die inbetaalstrokie ná dit aan die onderneming gefaks is, verander en is ‘n bedrag wat heelwat minder is as die oorspronklike bedrag in die rekening van Direct Auto Parts inbetaal.
Die mans het daarna by die onderneming opgedaag om die bestelling op te laai. Mnr. Van den Heever sê dat hulle eers sowat twee weke later besef het dat die onderneming skade van sowat N$25 000 gely het.
“Hulle het weer die naweek dieselfde skelmstreek probeer, maar ons kon daarin slaag om die belhamels te identifiseer. Die een persoon het verskeie kere by die winkel in- en uitgestap om te kyk wie agter die toonbanke staan.
Dieselfde persoon het ook met ‘n taxi mense voor die winkel op- en afgelaai om ons dop te hou.”
Mnr. Van den Heever sê Saterdag net voor hulle omstreeks 13:00 die winkel sou sluit vir die naweek, het ‘n ander persoon wat ook dopgehou is, met ‘n bakkie opgedaag om die bande te kom oplaai. Die polisie en ander wetstoepassers het egter die hele dag die werksaamhede van die sindikaat dopgehou en toe die man die bande op die bakkie laai, is hy in hegtenis geneem.
“Die ander mense wat saam met hom opgedaag het, het laat spaander en is nie in hegtenis geneem nie. Ten spyte daarvan dat die man heeldag dopgehou is, het hy aan die polisie vertel dat hy net deur ‘n ander een versoek is om die buitebande te kom oplaai en op ‘n ander dorp te gaan aflaai. Hy het ook aan die polisie probeer verduidelik dat die mense hom N$60 vir sy moeite sou betaal.”
Die polisie van Oshakati het die voorval bevestig, maar kon nie sê wanneer die beskuldigde in die hof in verband met die bedrog- en diefstalklag sou verskyn nie.
Die sindikaat het die naweek probeer om buitebande ter waarde van N$17 000 op die skelm wyse te steel.
Volgens mnr. Van den Heever was hy gedurende Desember verlede jaar die slagoffer van diewe wat ander mense se kredietkaarte gesteel het en goedere ter waarde van N$100 000 op die wyse by sy onderneming gekoop het. Die geld moes hy aan die handelsbanke terugbetaal.
|