10.03.2010 ‘Mutete’ toor glo ses dood
NADAT ses inwoners van Shinunga, ’n San-nedersetting in Kavango, in ’n rapsie meer as ’n week aan dieselfde simptome gesterf het, is ander inwoners oortuig hulle is dood getoor.
“Ons is nog besig met die ondersoek,” het adj.komm. Hophni Hamufungu, hoofskakelbeampte van die polisie, gister oor die voorval gesê. Geregtelike ondersoeke word na elk van die sterftes gedoen, terwyl ondersoekbeamptes op die uitslae van vyf lykskouings wag.
Vier van die oorledenes is kinders, met twee volwasse mans watin ’n ernstige, maar stabiele toestand in die hospitaal verkeer.
Volgens adj.komm. Hamufungu het mnr. Kauma Mateus (ouderdom onbekend) kort voor sy dood volgens ander inwoners ’n verskriklike droom oor die stingels van “mutete”, ’n tradisionale soort spinasie, gehad.
Toe hy wakker word, was sy lyf na bewering vol slaan- of brandmerke. Hy het maagkrampe en hoofpyne gehad en het op 27 Februarie gesterf.
Al die mense wat later gesterf het, was volgens inligting by mnr. Mateus se begrafnis op 28 Februarie, waar hulle glo almal “mutete” geëet het.
Op 5 Maart het die 28-jarige me. Annastasie Shevekwa vroegoggend gesterf nadat ook sy van maagkrampe gekla het.
Kapango Ncame Kakove, ’n 13-jarige meisie, is op dieselfde dag dood in Rundu se staatshospitaal, terwyl Mukuve Ncame Ncame, ’n 9-jarige seun, tuis beswyk nadat hulle oor soortgelyke simptome gekla het.
Kapango Maria Mudose, ’n vierjarige meisie, en Mbundje Elina Sakaparanga, ’n vierjarige seun, het op dieselfde dag, 6 Maart, in die hospitaal op Nyangana gesterf.
Hoewel Nampa sewe sterftes vermeld, is net ses nog onder adj.komm. Hamufungu se aandag gebring. Hy het gesê spekulasie oor moontlike vergiftiging is voortydig en dat die uitslae van die nadoodse ondersoeke hopelik gou uitsluitsel oor die voorvalle sal gee.
|