
Minister Joël Kaapanda
MET die bekendstelling van die Ministerie vir Inligting en Kommunikasietegnologie (ICT) se strategiese vyfjaarplan het Minister Joël Kaapanda die noodsaaklikheid beklemtoon dat elke Ministerie sy eie webtuiste moet hê om effektief met die publiek te kommunikeer.
Die Ministerie wat in 2008 deur President Hifikepunye Pohamba gestig is, is vir inligtingstegnologie, telekommunikasie, die media, uitsaai- en posdienste in die land verantwoordelik. Volgens mnr. Kaapanda is kort na die stigting van sy Ministerie in 2008 met die opstel van die strategiese plan begin.
“Die Ministeriële Strategiese Plan is ontwerp om met die beginsels van Visie 2030 ooreen te stem om Namibië teen 2030 in ’n geïndustrialiseerde en kennisgedrewe gemeenskap te verander.”
Een van die planne is om inligtingbestuur binne die Regering te koördineer.
“Ons is in ’n goeie posisie om ICT-aktiwiteite te bestuur en te verseker dat dienste vir die publiek maklik toeganklik en bekostigbaar is. In dié verband werk ons hard om alle ICT-dienste, insluitend inligtingstegnologie, onder die Ministerie te verenig.”
Volgens Minister Kaapanda sal dit verseker dat e-regeringsdienste op ’n gekoördineerde wyse toegepas word om doeltreffendheid in die verspreiding en gebruik van die staat se inligting en dienste te verbeter.
“Dit is absoluut noodsaaklik dat elke Ministerie en sy agentskappe ’n webtuiste het wat gereeld op datum gehou word om die beskikbaarheid van dienste en inligting te verseker.
“Die noodsaaklikheid vir die sektor om te vernuwe kan nie oorbeklemtoon word nie en daar is ’n dringende behoefte om op vinnige, dog georganiseerde wyse ’n program in werking te stel om ons mededingendheid in die toekoms te verseker.”
Minister Kaapanda het aangevoer dat die maatreëls nodig is omrede die mensdom in die toekoms al hoe meer afhanklik van die snel ontwikkelende tegnologie gaan word.
“Die vordering het maatskaplike en ekonomiese gevolge. Ons moet ’n gemeenskap skep waar almal inligting en kennis kan skep, ontvang, deel en gebruik vir hul ekonomiese, maatskaplike, kulturele en politieke ontwikkeling.”
Volgens mnr. Kaapanda kan dit gedoen word deur veeldoelige gemeenskapsentrums en projekte soos “Hole in the Wall” en “One laptop per child”.
“Ons moet fokus op projekte wat kinders en jong mense teiken en moet samewerking van jeugorganisasies kry. Die Ministerie beoog om met die Indiese regering saam te werk met betrekking tot die ‘Hole in the Wall’-voorstel, asook om die skootrekenaars vir kinders te voorsien.”
Die Ministerie se strategiese plan is gegrond op vier strategiese temas wat die gevolg van ’n volledige ontleding en raadplegingsproses van rolspelers is.
Die temas behels ICT-groei en ontwikkeling in Namibië, die verskaffing van inligting, toeganklikheid tussen die media en die Regering, ICT-dienslewering by die Ministerie, betroubare administrasie en goeie bestuur.