1.09.2010 Minister nie bewus van boetes
DRAKONIESE boetes wat deur Agri Inspec en die Namibiese Akkerbouraad op die land se suiden noordgrense gehef word vir permit- en ander oortredings word sonder die toestemming van die Namibiese regering gedoen.
Bevestiging hiervan is gister deur die adjunkdirekteur van bemarking en beplanning in die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou, mnr. Mesag Mulunga, gegee. Hy en ander hooggeplaastes was in ‘n vergadering met Minister John Mutorwa toe hy op vrae van Republikein aan die Minister geantwoord het.
“Die Ministerie het nooit ingestem dat hierdie boetes gehef kan word nie en was glad nie bewus daarvan nie. Dit word geensins met die goedkeuring van die Minister of enige ander persoon in die Ministerie gedoen nie,” het mnr. Mulunga gesê.
Die Akkerbouraad het vroeër gesê dat die boetes deur die verteenwoordigers van die Ministerie op die raad goedgekeur is.
Terwyl mnr. Mulunga die antwoorde telefonies aan Republikein verskaf het, was Minister Mutorwa met die hoof uitvoerende beampte van die Akkerbouraad, mnr. Christof Brock, in ‘n telefoniese gesprek waartydens mnr. Brock aan die Minister bevestig het dat die personeel van die Ministerie nie kennis gedra het van die boetestelsel wat in oorleg met Agri Inspec ingestel is nie.
“Dit maak glad nie sin dat ‘n Namibiese instelling boetes hef op invoere en dat die geld dan na ‘n buitelandse maatskappy oorbetaal word nie,” het mnr. Mulunga gesê.
Republikein het verlede week berig oor die enorme boetes wat deur Agri Inspec gehef word. Hulle is as agente vir die Akkerbouraad op die grense aangestel in ‘n moniteringshoedanigheid. Hulle moet die invoer van graan en ander akkerbouprodukte monitor en op ‘n gereelde basis daaroor aan die Akkerbouraad verslag doen.
Sou invoerders en in transito vervoerders van akkerbouprodukte nie aan Agri Inspec se vereiste voldoen nie en die boetes nie betaal word nie, word invoer- en vervoerpermitte deur die Akkerbouraad aan hulle geweier.
|