3.02.2010 Min water laat uraan opdroog
WATERNOOD in die Erongo-streek het drie van Namibië se grootste myne sedert Sondag tot ’n slakkepas en selfs tot stilstand gedwing.
Die uraanreuse Rössing en Langer Heinrich sal waarskynlik vanoggend weer in produksie wees. By Areva se Trekkopje-projek kan ’n gebrek aan water nog tot Maandag aan die konstruksiefase rem.
Op Swakopmund word die watertoevoer deurlopend deur die munisipaliteit gemonitor, maar het die situasie gistermiddag genormaliseer.
Die probleem word deur ’n defekte transformator by die Omdelskema oos van Hentiesbaai as die waterskuur van die streek geskep, volgens ’n NamWaterwoordvoerder op Swakopmund. Die water is daar, maar volle kapasiteit kan nie gepomp word nie.
Gistermiddag was steeds aan die omvormer gewerk, maar die beskikbaarheid van onderdele dra blykbaar by tot die onderbrekings.
Op Swakopmund word deurlopend ’n oog oor die watertoevoer van die Omdeldam gehou nadat ’n gebarste pypleiding van die Omdeldam by Hentiesbaai na Swakopmund op 22 Januarie die vakansieoord se watertoevoer onderbreek het.
Kort ná die eerste pypdefek het ’n tweede ingetree en die dorp twaalf uur lank van sy waterbron afgesny.
Die hoof uitvoerende beampte van die Swakopmundse munisipaliteit, mnr. Eckart Demasius, het gistermiddag gesę watertoevoer na die dorp het toe weer op 700 kubieke meter per uur gestaan met die dorp se basiese behoefte op sowat 650 kubieke meter.
Swakopmund se reservoir was toe weer sowat 80 persent vol. Maandag was daar wel ’n stadium waar daar geen watertoevoer na Swakopmund was nie.
Die NamWater-woordvoerder het gistermiddag gesę waterlewering is na die myne Langer Heinrich en Rössing hervat. Eers wanneer Rössing se reservoir ’n vlak van 50 persent bereik het, word waterlewering daarvandaan aan Areva se Trekkopje-myn hervat.
Volgens een bron het die Rössingreservoir gistermiddag maar sowat 25 persent van sy kapasiteit gehaal met die watervlak wat steeds gedaal het. Wanneer die reservoir se watervlak tot net 20 persent daal, word die toevoer deur NamWater gestaak.
Areva se bestuurder: buitesake, mnr. Malcolm Lindsay-Payne, het gistermiddag gesę die Trekkopje-projek kan van geluk spreek dat daar nog net met die konstruksiefase besig is. “Die situasie is nie kritiek nie, maar uiters lastig,” het hy gesę.
Die onderbreking in die watertoevoer het wel aanpassings in die konstruksiefase geverg. Volgens mnr. Lindsay-Payne behoort die watersituasie by die Trekkopje-aanleg eers teen Maandag normaal te wees, as die herstelwerk aan die watertoevoer normaal verloop.
Mnr. André Genis, hoofbestuurder: ingenieurswerke en projekte van Rössing, het gister gesę die watervlak in Rössing se reservoir het Sondagmiddag begin daal. Wanneer die watervlak tot ’n sekere punt daal, word die oorblywende inhoud vir Arandis as dorp aangewend.
Gevolglik is die ganse produksieproses Sondagmiddag by die myn gestaak. Sedert Sondagmiddag tot gister is na instandhoudingswerk op Rössing oorgeskakel.
Volgens hom word deurlopend met NamWater geskakel om die waterstand in Rössing se reservoir verkieslik eers op 40 persent te bring.
Volgens mnr. Genis het Rössing gistermiddag weer water van die Omdelskema begin kry.
|