24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

8.02.2011

Miljoene se skade aan infrastruktuur

© Kokkenys Brits
Die onbegaanbare B3 net duskant Karasburg.

ETLIKE miljoene dollar gaan oor die komende dae, weke en maande vloei om pad- en spoorverbindings met Suid-Afrika te herstel wat deur die naweek se vloede in die suide geknip is.

Normale padverkeer tussen die twee lande deur die grenspos by Ariamsvlei sal ná ’n geskatte N$15 miljoen se ernstige skade aan 12,8 kilometer van die B3 op die vroegste oor drie maande kan hervat, terwyl spoorskakels met Suid-Afrika volgens TransNamib hopelik volgende week herstel sal wees.

Gister het die Paaie-owerheid (RA) die B3 prakties tot verdere kennisgewing vir alle verkeer gesluit.

Volgens dr. Audrin Mathe, bestuurder vir korporatiewe kommunikasie, mag die pad dalk nog op plekke gangbaar lyk, maar is groot dele van die grond onder die teeroppervlak erg verspoel. ’n Kontrakteur het Saterdag al begin om ’n ompad te bou. Die werk behoort Donderdag afgehandel te wees.

Volgens die RA is alle moontlike hulpbronne gemobiliseer om die roete so vinnig as moontlik te heropen. Dit sal egter na beraming ongeveer drie maande neem voor verkeer dit kan gebruik.

Die RA het ’n inligtingsentrum by sy streekkantoor op Keetmanshoop geopen om navrae oor die pad te hanteer. Die kantoor kan by 063 221 550 bereik word.

Groot vloedskade is ook aan verskeie spoorlyne aangerig. Die koste van die herstelwerk sal volgens TransNamib se hoofskakelbeampte, me. Ailly Hangula-Paulino, honderde duisende dollar beloop.

Pogings om die spoorlyn tussen Karasburg en Ariamsvlei weer oop te stel, duur voort. Trein 6666 met 16 waens se vrag van 905 ton was steeds gestrand. ’n Totaal van 1,5 km se spoorlyn is Vrydag tussen die Nuwefontein- syspoor en Karasburg verwoes.

Herstelwerk aan die lyn vorder stadig aangesien voortgesette reënbuie die werk kortwiek. Materiaal moet met trollies na die toneel aangery word. ’n Tweede stootskraper is gister hier ontplooi en hopelik sal die spoorlyn teen volgende week herstel wees.

Ongeveer 300 m van die spoorlyn tussen Seeheim en Lüderitzspoorlyn is Vrydag tussen Schackalskuppe en Ausnek weggespoel. Die spoorwalle is op plekke tot 2,5 m diep heeltemal vernietig. Die lyn is tydelik weer gestut tot ’n stootskraper die toneel kan bereik. Die lyn sal hopelik teen Vrydag operasioneel wees.

By die Simplon-sylyn is 30 m van die spoor liggies beskadig. Die herstelwerk sou gister afgehandel gewees het.

Die spoorlyn tussen Windhoek en Mariental waarvan 400 m tydens die oopmaak van die sluise van die Hardapdam in Januarie langs die Dabibrivier beskadig is, is Sondag weer vir verkeer oopgestel.

Die spoorwalle was hier op plekke tot 4 m diep en 30 m wyd heeltemal vernietig. Volgens ’n klaringsagent op Ariamsvlei het ’n groot aantal vragdraers wat nog per pad na Namibië probeer deurkom het, Sondag via Aroab vertrek om weer by die B1 aan te sluit.

“Die grens is stil,” het ’n immigrasiebeampte gesê.

Volgens beide kantore het die boodskap reeds vroeg die vervoer- en toerismebedryf bereik om liefs die land by Noordoewer of deur Botswana binne te kom. Volgens ’n bekende vragmaatskappy in Windhoek kos dit kontrakteurs derduisende bykomende dollar om besendings langs die roetes te herkanaliseer.

Buiten vir ’n vervoerpermit wat in Botswana oor die N$2 000 kos, beloop ekstra brandstofuitgawes ’n aardige bedraggie. As die reën aanhou val, sal ’n ompad volgens die onderneming nie veel help nie, aangesien dit in ’n kits weer onbegaanbaar kan raak.

Om moontlike vertragings in aflewering te voorkom, sal baie swaar vragmotors waarskynlik eerder die alternatiewe roetes gebruik. As vergunning is die grenspos by Noordoewer opdrag gegee om tydelik alle vragdokumentasie vir Ariamsvlei te aanvaar.

“Dit lyk woes daar onder,” het me. Lindy Viljoen gister aan Republikein oor die skade aan die B3 gesê.

Haar man Paul se vragmotor was die enigste om op sy sy te beland in Vrydag se massiewe vloed. “Atata!” het sy oor die onkoste gesê wat hulle moes aangaan om die vragmotor en die vrag van nie-vlambare argon-gas bestem vir Rosh Pinah te herwin.

Sonder versekering, waarop daar steeds ’n bybetaling gedoen moes word, sou die reddingsaksie hom sowat N$80 000 gekos het, het mnr. Viljoen gesê.

“Niks kry my onder nie,” het hy egter oor die teëspoed verseker.