Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

30.08.2010

Meisie se dood ’n wekroep vir land

© Niël Terblancé
Me. Elisabeth Ngwetha (links), ma van wyle Ndapewa Nashuutu wat deur ’n wegholvoertuig gedood is wat deur hul huisie gebars het, mnr. Piet van der Walt, lid van die Nasionale Vergadering, en me. Margareth Mensah-Williams, ondervoorsitter van die Nasionale Raad, by die huis waar die kind Saterdagaand tragies gesterf het. Die politici het vleis en ander huisraad aan die bedroefde ma geskenk.

DIE dood van die sesjarige Ndapewa Nashuutu is nog ’n wekroep wat die aandag van Namibiërs op alle vorme van geweld moet vestig.

Die ondervoorsitter van die Nasionale Raad en raadslid van die Khomasdal-Noord kiesafdeling, me. Margareth Mensah-Williams het die mening gelug toe sy saam met mnr. Piet van der Walt, lid van die Nasionale Vergadering, ’n skenking van vleis en huisraad oorhandig het aan die ma van die meisie wat onlangs tragies in haar slaap gesterf het.

Me. Mensah-Williams het gesê die wreedaardige moord en verkragting van Magdalena Stoffels het die land se inwoners laat besef dat geweld teen vroue en kinders in die bek geruk moet word. Die tragiese dood van die sesjarige Ndapewa het volgens me Mensah-Williams ’n ander vorm van geweld ontbloot.

“Mense ry met hul voertuie wanneer hulle besope of onder die invloed van dwelms is. Dit is ’n verskynsel wat teen elke prys gestop moet word.”

Volgens me. Mensah-Williams spruit die drank- en dwelmprobleem uit die honderde sjebeens wat oral in woonbuurte van die land sake doen. Sy was van mening dat die Regering die sjebeenwet moet hersien en die soort sake-onderneming beter moet reguleer.

“Die Regering moet die aantal lisensies beheer wat vir sjebeens uitgereik word. Hierbenewens moet die ure waarin die drankhandelaars sake doen, beperk word.”

Me. Mensah-Williams het gesê ’n hoër belasting moet op drank en sigarette gehef word. Sy het voorgestel dat die inkomste wat die Regering op die wyse insamel, vir ontwikkelingsprojekte gebruik moet word.

Die ondervoorsitter van die Nasionale Raad was van mening dat inwoners van informele woonbuurte na ander wyses moet soek om ’n inkomste te genereer.

Sy het ook ’n beroep op die Windhoekse munisipaliteit gedoen om spoedhobbels in strate van armer woonbuurte te bou.

“Die kind het gewelddadig gesterf terwyl sy in die veiligheid van haar ma se huis gelê en slaap het omdat verkeersreëls in plekke soos Sewende Laan nie soos in meer gegoede woonbuurte toegepas word nie. Alle Namibiërs het dieselfde reg om te leef en die verkeersafdeling moet die wette oral in die stad op ’n gelyke grondslag toepas.”

Me. Mensah-Williams het ook die ongeluk in die noorde uitgewys waar een persoon gesterf het terwyl hy in ’n sjebeen langs die hoofpad gesit het. In die verband het sy ’n beroep op die Ministerie van Werke en Vervoer gedoen om veiligheidsversperrings aan te bring sodat die verlies aan menselewens verminder kan word.