Mediese fonds vir lae inkomste werkers

‘n MEDIESE fonds wat aan lae inkomste werkers toegang verleen tot private mediese sorg, is verlede week amptelik in Namibië bekend gestel. Dit beteken dat die meer as 60 persent van werkende Namibiërs wat tot dusver van openbare gesondheidsorg gebruik moes maak, deur middel van die nuwe fonds bekostigbare toegang tot private gesondheidsorg kry.

Die nuwe fonds, Day 1 Health Namibia, is die uitvloeisel van twee en ‘n half jaar se harde werk, het mnr. Martin Shipanga, die fonds se voorsitter, tydens die bekendstelling daarvan gesê. Hy sê die fonds is gebore uit die besef dat werkers toegang tot bekostigbare private gesondheidsorg op ‘n volhoubare wyse moet kry.

Benewens doktersbesoeke en ‘n hospitaalplan, ontvang lede van die fonds ook lewensdekking vir sterftes in motorongelukke asook versekering teen ongeskiktheid. Mnr. Shipanga sê die nuwe toetreder tot die mediese fonds mark hou nie ‘n bedreiging vir bestaande mediese fondse in nie, maar is eerder aanvullend daartoe. Hy het die hoop uitgespreek dat Day 1 Health Namibia met ander fondse sal kan saamwerk om die nood onder Namibiërs in die laer inkomstegroepe te help verlig.

Volgens hom bied die nuwe fonds ook die geleentheid aan lede van die staat se mediese fonds, Psemas, om deur middel van lidmaatskap toegang te kry tot private hospitale. Psemas se lede moet van staatshospitale gebruik maak indien hulle siek word.

Dr. Richard Kamwi, wat namens Pres. Hifikepunye Pohamba die sleutelrede tydens die bekendstelling gelewer het, sê een van die Regering se vernaamste prioriteite is om te verseker dat alle Namibiërs toegang tot hoë gehalte mediese sorg teen bekostigbare tariewe het. Hy sê die Regering ondersteun private/openbare vennootskappe wat daarop gemik is om die lewenstandaard van die land se inwoners te verbeter en maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling te bevorder.