Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

2.02.2010

Meatco: Mutorwa veroordeel 'woordeoorlog'

© Ronelle Rademeyer
Van links is die Minister van Landbou, Water en Bosbou, mnr. John Mutorwa, sy adjunk, mnr. Isak Katali, en dié Ministerie se permanente sekretaris, mnr. Andrew Ndishishi.

DIE Ministerie van Landbou, Water en Bosbou het gister ure lank agter geslote deure met die bestuur van Meatco vergader om die “misverstande” en “onnodige woordeoorlog” oor brandpunte soos die slagreus se toekomstige eienaarskap, subsidies aan kommunale boere en die voerkraal by Etunda uit die weg te ruim.

Ofskoon Minister John Mutorwa voor die vergadering die agenda met joernaliste bespreek het, kon nóg die hoof uitvoerende beampte van Meatco, mnr. Kobus du Plessis, nóg die voorsitter van die direksie mnr. Arne Gressmann, teen druktyd vir kommentaar bereik word.

Mnr. Mutorwa het gisteroggend gesê die vergadering is “uiters belangrik” vanweë die openbare belangstelling in die uitkoms van dié Meatco-kwessies. Hy het verwys na die verslag oor Meatco se toekomstige eienaarskapsmodel wat tans voor die Kabinet se komitee oor handel en ekonomiese ontwikkeling dien en gesê daar moet nie “onnodige druk” op die Ministerie óf die komitee geplaas word nie.

“Laat die komitee asseblief toe om ongehinderd sy werk te doen,” het mnr. Mutorwa Namibiese produsente versoek.

Hy het die land se produsente voorts gemaan om nie “paniekerig” te raak nie.

Mnr. Mutorwa het boere se vrese dat Meatco huidig “binne ’n vakuum” sake doen, verwerp en gesê die Vleiskorporasiewet van Namibië, Wet 1 van 2001, geld steeds en skep die nodige wetlike raamwerk vir Meatco.

Die jarelange dispuut oor die eienaarskap van Meatco is in Augustus 2008 op die spits gedryf met die bekendmaking van wie die konsortium van konsultante is wat moes bepaal aan wie Namibië se grootste vleisverwerker moet behoort en hoe sy sakemodel in die toekoms moet lyk.

Die konsultante se verslag is in September verlede jaar aan die Kabinet voorgelê waarna dit na dié komitee vir aanbevelings verwys is.

Die konsultante se mandaat was die opstel van ’n strategie vir die vloeiende oorgang na ’n nuwe sakestruktuur waarin Meatco besit word deur alle kommunale, kommersiële, hervestigde en ontluikende lewendehaweprodusente wat by die korporasie laat slag.

Mnr. Mutorwa het voorts sy kommer uitgespreek oor klagtes dat administratiewe struikelblokke die subsidieskema vir beesboere in die Noordelike Kommunale Gebied (NCA) in die wiele ry.

Hy het die hoop uitgespreek dat gister se vergadering tussen die Ministerie en Meatco tot ’n oplossing hiervoor sou lei. Hy het daarop gewys dat die Ministerie in Desember en Januarie klagtes van verskeie kommunale boere oor die nie-betaling van hierdie subsidies ontvang het.

“As daar geld aan die boere verskuldig is, moet hulle dit kry.”

Die derde kwessie waaroor gister agter geslote deure vergader is, is die besluit om nié die voorgenome voerkraalprojek van N$25 miljoen by Etunda in die Omusati-streek te vestig nie.

Volgens mnr. Mutorwa voel inwoners in dié streek Etunda se hoofdoel is die verbouiing van gewasse en dat die voerkraal elders opgerig moet word.

Hy het daarop gewys dat dit belangrik is om “alle slegte gevoelens” hieroor uit die weg te ruim.