
Koning Keharanjo Nguvauva
DIE verdeelde Ovambanderu se stamraad onder leiding van waarnemende hoofman Peter Nguvauva, het geen planne om sommer net te gaan lê en in belang van “versoening” te aanvaar dat mnr. Kilus Nguvauva, Adjunkminister van Visserye en Mariene Hulpbronne, sover dit die Regering aangaan nie sy volk mag regeer nie.
Koning Keharanjo Nguvauva se saampratery met die Regering dat dit tyd is om vrede te maak, is volgens mnr. Uazenga Ngahahe Tjiposa, woordvoerder van die raad, suiwer “kat-enmuis- speletjies.”
Volgens hom bestudeer die raad se regslui nog die verslag op grond waarvan mnr. Jerry Ekandjo, Minister van Streek- en Plaaslike Owerhede, Behuising en Landelike Ontwikkeling, die beweerde onregmatig ingesweerde Keharanjo Nguvauva as troonopvolger aanvaar het.
Mnr. Tjiposa wou nie sê of die plan steeds is om met ’n hofsaak voort te gaan, of vir ’n volksverkiesing te vra nie.
“Ons sal die Minister van ons standpunt inlig sodra ons gereed is,” het hy benadruk. Die raad is egter vasbeslote dat mnr. Ekandjo sy beslissing moet heroorweeg.
Mnr. Keharanjo Nguvauva en sy stamraad het na jare se verdeeldheid en twis hierteenoor vir versoening en die heropbou van die gemeenskap gevra.
“…Ek wil herbeklemtoon dat die Minister (mnr. Ekandjo) se uitspraak ’n werklike kans geskep het vir die Ovambanderumense om ons geskil te beëindig en in betekenisvolle gesprek te tree om ’n durende oplossing te vind,” lui die nuusvrystelling.
“Die tyd om ’n durende oplossing vir ons uitgerekte probleme en geskille te vind, is nou en nie later nie.”
Volgens die betwiste koning is daar nie wennersen verloorders nie en gaan dit ook nie net oor die troon nie. Die regte oorwinning sal na sy mening eers aanbreek wanneer die volk verenig, saam sy kultuurgoed bestuur en op die toekoms en ontwikkelingsuitdagings fokus.
“My medeleiers en ek is reg om die gesprek te begin,” het mnr. Keharanjo Nguvauva benadruk. Versoening kan volgens hom dadelik op voetsoolvlak begin, byvoorbeeld by begrafnisse – wat ’n platform vir die slepende opvolgstryd geword het.
Volgens mnr. Tjiposa vergeet “daardie outjie” (Keharanjo) en sy raad dat elke opstal sy eie hoof, beginsels en strukture het.
“Jy kan nie vrede maak as jy nie die strukture (soos voorgeskryf in die stamgrondwet) volg nie. Ons weet boonop nie hoe iemand wat sy rug op die strukture gedraai het, die gemeenskap wil versoen nie.”
Mnr. Tjiposa het bygevoeg dat die Mbanderu-volk se stamgrondwet honderd persent met die Wet op Tradisionele Owerhede strook.
Hoofman Keharanjo het gesê sy stamraad sal vanjaar die Suide, Rundu en Caprivi besoek om verhoudings met ander tradisionele owerhede te versterk. Hy het ook verslag gedoen oor ’n besoek aan die hoë kommissaris van Botswana in Windhoek om homself as troonopvolger aan die diplomaat voor te stel.
Van die Mbanderu-volk woon steeds in Botswana, waar hy ook deel van sy kinderjare deurgebring het.