
Die tenthospitaal het in ’n stadium negentig pasiënte gehuisves. Huidig word dertien mense daar behandel.
DIE sukses van die beplande massaveldtog teen masels in Kaokoland hang af van die mate waartoe tradisionele leiers en koninklikes in die geïsoleerde Himba-gemeenskap daarin gaan slaag om die belangrikheid van hierdie gesondheidsinisiatief by hul mense in te prent. Mnr. Puumue Katjiuano, epidemioloog en direkteur van gesondheid in die Karas-streek, sê kom munikasie is uiters belangrik om die veldtog te laat slaag.

Tradisionele Himba-leiers en verteenwoordigers van die onderskeie koninklike families in Kaokoland het die nuuskonferensie bygewoon.
Mnr. Katjiuano, wat die gebied vroeër besoek het om ondersoek te doen na die redes waarom sowat 1 300 mense reeds met hierdie kindersiektes gediagnoseer is, sê die geografie van die gebied en die tradisionele ingesteldheid van die Himbas speel ’n groot rol.
Mnr. Katjiuano het voorheen as epidemioloog in dié gebied gewerk en is vertroud met die gebruike en tradisies van die Himbas.
“Talle nedersettings is in die berge geleë en dit is baie moeilik vir gesondheidspanne om die mense tydens roetine-immunisering te bereik.

Die Namibiese weermag het reeds begin om ambulanse, verpleegpersoneel en ander voertuie na die gebied te stuur om aanstaande week bystand te verleen tydens die inentingsveldtog wat Dinsdag afskop en tot Maandag, 15 Februarie duur.
Daarbenewens leef die mense so tradisioneel dat hulle nie die voordele van voorkomende behandeling deur middel van inenting besef nie.”
Hy sê leiers se vermoë om hul mense oor die voordele in te lig, gaan bepaal of die Ministerie volgende week met sy veldtog gaan slaag. Anders as in ander streke is dit nie net kinders jonger as vyf wat in Kaokoland masels gekry het nie, maar ook groot getalle volwassenes.

Van links is die Adjunkminister van Verdediging, mnr. Victor Simunja, die Minister van Gesondheid en Maatskaplike Dienste, dr. Richard Kamwi, en die goewerneur van Kunene, mnr. Dudu Murorua.
“Dit is omdat die Himbas nie kudde-immuniteit het nie,” sê dr. Lawson Ahadzi, ’n epidemioloog by die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se kantoor in Namibië. “Om kudde-immuniteit teen oordraagbare kindersiektes soos masels te bewerkstellig, moet ten minste 90% van kinders tydens die jaarlikse roetine-immuniseringsveldtog ingeënt word. En dié syfers is vir baie jare nooit bereik nie. Dit beteken daar is baie volwassenes in Kaokoland wat nie immuun is teen kindersiektes nie.”
Mnr. Katjiuano verduidelik verder dat selfs al word 100% van die kinders tydens roetine-immunisering ingeënt, net 85% van hulle wel die nodige teenliggaampies ontwikkel. Hy sê dit is wetenskaplik bewys oral in die wêreld.

Amptenare in die Ministeries van Gesondheid en Maatskaplike Dienste asook Verdediging het na Opuwo gevlieg vir die nuuskonferensie waar dr. Kamwi die aankondiging oor die massaveldtog teen masels gemaak het.
Dr. Ahadzi sê as die gesondheidsowerheid oor baie jare in ’n bepaalde streek net ’n suksessyfer van sowat 60% in sy roetineveldtogte behaal en van dié 60% ontwikkel net 85% die nodige teenliggaampies, beteken dit groot getalle inwoners van verskillende ouderdomme in daardie gebied is kwesbaar, sou ’n siekte uitbreek.
Dr. Richard Kamwi, Minister van Gesondheid en Maatskaplike Dienste, het Dinsdag op Opuwo ’n ernstige beroep op tradisionele leiers en afgevaardigdes van koningshuise gedoen om die boodskap van die entveldtog wat van 9 tot 15 Februarie alle inwoners ouer as ses maande moet bereik aan almal uit te dra. Die Namibiese weermag, die WGO, die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef), die Rooikruis en die Ministerie van Onderwys is reeds opgeroep om met die tegniese en logistieke reëlings te help.

’n Himba-vrou en haar siek baba ontvang behandeling in die spesiale tenthositaal vir maselspasiënte op Opuwo.
DIE Minister van Gesondheid en Maatskaplike Dienste, dr. Richard Kamwi, het Dinsdag die maselsgeteisterde Kaokoland besoek waar hy op Opuwo bekend gemaak het dat die 45 000 inwoners in die gebied aanstaande week as deel van ’n massaveldtog teen dié siekte ingeënt sal word.
Die opdrag hiervoor kom van die Kabinet en is in ’n poging om die epidemie wat reeds vier maande woed, onder beheer te bring. Alle inwoners bo ses maande sal ingeënt word, met die uitsondering van swanger vroue. Die Namibiese weermag sal die Ministerie in die massaveldtog bystaan deur verpleegpersoneel, voertuie en ambulanse asook ander hulpbronne beskikbaar te stel.