
Verpleegpersoneel wat betrokke gaan wees by die veldtog teen masels in die Kunene-streek, is gister op Opuwo touwys gemaak in die toediening van die entstof.
DIE ratte is geolie vir die uitroei van masels in die noordweste van die Kunene-streek nadat 120 verpleegsters, 60 vrywilligers, 50 voertuigbestuurders, twaalf toesighouers, 44 voertuie en drie 4x4-ambulanse die naweek op Opuwo aangekom het vir die inentingsveldtog wat môre begin.
Daarbenewens is 18 inligtingverspreiders reeds voor die naweek die gebied ingestuur om seker te maak selfs mense in die verste en mees afgeleë nedersetting word oor die veldtog ingelig.
Teen laat gistermiddag is druk gewerk om tente vir akkommodasie op te rig, die vrywilligers op te lei en seker te maak die sestig spanne wat ontplooi gaan word, weet presies wat van hulle verwag word.
Volgens me. Linda Namundunga, direkteur van gesondheid in die Kunene, is die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste en sy vennote in dié veldtog, naamlik die Namibiese weermag, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef), gereed om van môre tot volgende Maandag altesaam 72 000 mense van ses maande en ouers in te ent. Net swanger vroue sal nie geïmmuniseer word nie.
Hoewel die groter Opuwo-gebied, oftewel Kaokoland, net sowat 45 000 inwoners het, word voorsiening gemaak om ook die Angolese burgers in die bied teen masels in te ent. Masels het in die tweede helfte van verlede jaar in die noorde van Namibië uitgebreek nadat die van Angola suidwaarts versprei het.
In Kaokoland kon dit sedertdien nie onder beheer gebring word nie omdat die Himbas as ’n groep nie kudde-immuniteit teen hierdie kindersiekte het nie. Dit is te wyte daaraan dat ouers oor baie jare nie moeite gedoen het om hul jong kinders daarteen te laat inent nie.
Minister Richard Kamwi het verlede week bekend gemaak dat sy Ministerie in opdrag van Pres. Hifikepunye Pohamba ’n massaveldtog van stapel gaan stuur om masels vir eens en altyd in Kaokoland uit te roei.
Me. Namundunga sê die immuniseringspanne sal tot so ver as 500 km van Opuwo af elke nedersetting besoek en die inwoners inent.
Inwoners van dorpe in die suidooste van die Kunene-streek gaan egter nie ingeënt word nie.
Die rede hiervoor is dat net jong kinders op dorpe soos Khorixas en Outjo met masels gediagnoseer is wat ’n aanduiding is dat die res van die inwoners wel immuun is daarteen.
Benewens Angola, woed epidemies van dié kindersiekte ook op die oomblik in Mosambiek, Zimbabwe en Suid-Afrika.