
Dié reeks foto’s deur ‘n veiligheidskamera is aan Republikein verskaf deur een van die handelaars wat voor mnr. Pieters deur die swendelaars ingeloop is.
KARIBIB was die volgende dorp waarop ‘n besoeker op sy blitsige hande gereken het om vir ‘n toer van drie mense deur Namibië te betaal. Dié keer het die gewilde OK Minimark op Karibib deurgeloop. Weer was dit die man met die blou hemp en kakiebroek en die twee vroue in sy geselskap wat toegeslaan het. Mnr. Bernhard Pieters van die OK-mark sê sy verlies beloop presies N$800.
Hy begryp dit, want die swendelaar werk in veelvoude van honderd. Danksy kameras in die winkel beskik hy ook oor ‘n volledige weergawe van die voorval Saterdag om 18:15. Hy meen die groepie van drie is oorspronklik óf van Pakistan óf Indië. Hy is ook bewus van soortgelyke voorvalle waar winkeliers van Karasburg en Otjiwarongo ingeloop is. Op Karibib was die flinke optrede van ‘n eerste vrou by ‘n geldlaai van die mark te goed vir die drietal.
Toe het hulle na ‘n tweede kassier oorbeweeg. Die foefie het toe so verloop: Die man staan voor die twee vroue in ‘n ry voor die geldlaai. Hy vra die kassier dan om ‘n N$100-noot vir ‘n R100-noot van Suid-Afrika te verruil. Wanneer die geldlaai oopgemaak word, delf hy dan self deur die N$100-note om na ‘n R100-noot in die pakkie te soek.
Die spoed van sy hande is merkwaardig. In die proses word N$100-note dan in sy onderste hand opgegaar met ‘n R100-noot uiteindelik bo-op die pakkie. Die vrou net agter hom in die ry knoop in die proses geselsies met ander mense in die ry aan om hul aandag van die geldlaai weg te lei. Die volgende oomblik is die besoekers met die pakkie note daar weg.
Mnr. Pieters sê hy is nog met die ondersoek na die voorval besig. Hy het ander winkeliers gewaarsku om op hul hoede te wees, aangesien die mense blykbaar met hul slenterslag deur die land toer. Die drietal reis in ‘n donkergroen Freelander met ‘n Gauteng-registrasiemerk. Die ruite van die voertuig is donker gekleur.
Klik op die foto om die fotogallery te vertoon.
In die gallery sal jy na die volgende of die vorige foto's kan aanbeweeg deur in die linker- of die regterkant van die foto te klik. Alternatiewelik kan jy die sleutel "T" gebruik vir terug, "V" vir vorentoe of "M" om die fotovenster toe te maak.