5.02.2010 Malawiese homoseksuele kry steun
 Mans en vroue neem deel aan ’n protesoptog van die Namibiese Reënboogprojek deur die strate van Windhoek om solidariteit te betoon met homoseksuele mense wat in ander Afrika-lande vervolg en geviktimiseer word.
DIE inhegtenisneming van twee mans in Malawi op grond van hul homoseksuele verhouding het wêreldwyd opslae gemaak toe aan die lig gekom het dat die beskuldigdes tot 14 jaar in die tronk kan deurbring.
Die voorval het die fokus op die regte van homoseksuele mense op die vasteland van Afrika geplaas.
In Uganda kan mense wat skuldig bevind word op klagte wat met homoseksualiteit verband hou, selfs die doodstraf opgelê word.
Namibië se Reënboogprojek het gevolglik ’n protesopmars deur die hoofstraat van Windhoek gehou om solidariteit met hul broers en susters van veral Uganda en Malawi te betoon en ook om plaaslike inwoners van hul stryd teen stigma en diskriminasie bewus te maak.
“Ons is bekommerd oor die wetsontwerp wat tans in die parlement van Uganda ter tafel gelê is. Sekere artikels van die wetsontwerp, veral die artikel wat homoseksualiteit ’n kriminele oortreding maak en dit selfs met die dood strafbaar maak, is in ’n moderne samelewing geheel en al onaanvaarbaar.”
Volgens die Reënboogprojek se waarnemende direkteur, Madelene Isaacks, is die wet daarop gemik om doelbewus mense vanweë hul seksuele oriëntering te vervolg en te teister. Sy voer aan dat dit strydig is met die mees basiese voorskrifte oor menseregte en op ’n plaaslike, streek- en internasionale vlak teen alle mense diskrimineer.
“Met hierdie protesoptog wil die Reënboogprojek sy solidariteit met die homoseksuele gemeenskappe in beide Malawi en Uganda wys.
Die Afrika-handves vir menseregte verseker die maatskaplike welstand, gelykheid en veiligheid van al die vasteland se inwoners en dit sluit lesbiese, gay, biseksuele, transseksuele mense of hermafrodiete – deesdae bekend as interseksuele mense – in.”
Ten opsigte van die inhegtenisneming van Steven Monjeza en Tiwonge Chimbalanga en hul verhoor in Malawi, het me. Isaacks gesê dit druis teen die grondwet van daardie land in.
Sy voer aan dat Malawi die Afrika-handves onderteken het, maar nogtans met die vervolging en mishandeling van die twee mans voortgaan.
• Klik op ons webwerf op die Videonuus-skakel om na ’n video van die betoging te kyk.
|