
Die magtige Zambezi.
’n EKSPEDISIE wat oor Afrika se mooiste, bekendste en plek-plek rofste 2 750 kilometerlange watermassa strek, skop Saterdag aan die bo-lope van die Zambezi-rivier af wanneer mediese dokters en malariakenners die internasionale aandag op een van Afrika se gevaarlikste siektes sal vestig. “Ons gaan malaria op die ‘rivier van die lewe’ beveg.
Ons gaan nie net medisyne en mediese hulp voorsien nie, maar ons wil die hele wêreld van die uitdaging van malaria in Afrika bewus maak.” Mnr. Helge Bendl (29), ’n joernalis uit Duitsland, en mnr. Andy Leemann (54), rivierkenner wat al meer as 30 000 km op riviere in die wêreld gevaar het, is die leiers van die Zambeziekspedisie.
Saam met hulle sal tot 15 bemanningslede (afhangende van die nood, terrein en logistieke ondersteuning) op vier rubberbote stroomaf vanaf Zambië deur Angola na Namibië en Botswana, terug deur Zambië en uiteindelik tot by Mosambiek vaar. Dinsdag het mnr. Leemann aan Republikein gesê die uitdaging is groot, maar hy kan nie wag om Afrika se vierde langste rivier agter sy naam te kan skryf nie.
“Die water is hoog en dit sal uitdagend wees om ons pad deur die stroomversnellings te vind. Wat dalk nóg ’n groter uitdaging sal wees, is om snags kampplek langs die rivier te kry en te keer dat die krokodille en seekoeie ons nie opvreet nie!” “Maar meer as dit, pak ons die projek aan om voorspraak te maak vir die gevaar van malaria en hoe moeilik bereikbaar die gemeenskappe langs die rivier is,” het mnr. Bendl gister gesê. Die Zambezi is vir slegs 650 km kommersieel vaarbaar.
“Ons uiteindelike doel is om aan sowat 80 persent van die bevolking muskietnette te voorsien en om die sterftesyfer as gevolg van malaria oor die volgende jaar met die helfte te verminder.” Voordat die span aan die einde van die week na Zambië vertrek, het mnre. Bendl en Leemann as deel van hul voorbereidingswerk die bolope van die Zambezi besoek, ’n draai by die Victoria-waterval gemaak en ook na die Zambezi-delta in Mosambiek gereis.
“Ons weet glad nie wat vir ons in Angola wag nie. Wat ons wel aflei, is dat daar ’n baie groter probleem met malaria is was wat daar byvoorbeeld in Namibië is. In Namibië is gesondheidsorg baie makliker toeganklik as in Angola. “Daarom is dit maklik om ’n poging aan te wend om Caprivi totaal malariavry te verklaar, wat natuurlik ’n reuse-inspuiting vir toerisme kan wees.” Mnr. Bendl sê om dit egter te kan bereik, moet daadwerklike pogings in die buurlande aangewend word om malaria ook daar te verminder.”
Volgens statistiek van die Zambezi- ekspedisie woon sowat 65 persent van Namibië se bevolking in malariagebiede en is dié virus die grootste rede waarom kinders van vyf jaar siek is of sterf. Met die ekspedisie hoop die groep om die sterftesyfer én die siektesyfer weens malaria teen 2011 met 50 persent in Namibië te verminder. Volgens beplanning sal die groep Saterdag wegspring uit Zambië en vanaf 31 Maart tot 7 April deur Angola vaar.
Daarna sal hulle weer vanaf 8 tot 17 April in Zambië wees voordat hulle vanaf 18 tot 22 April by Namibië en Botswana sal aandoen en hulp verleen. Daarna is dit weer Zambië vanaf 23 tot 26 April, Zimbabwe vanaf 27 April tot 8 Mei, Zambië vanaf 9 tot 11 Mei en dan Mosambiek. Die mikpunt is om die Zambezi-delta in Mosambiek op 31 Mei te bereik.