MENEER Jurie Viljoen van Monitor Aksie Groep (MAG) het hom soos volg uitgelaat oor die gebrek aan ’n kworum in die Nasionale Vergadering (NV) waaroor Republikein gister berig het.
“Monitor Aksiegroep wil sy kop in skaamte laat sak omdat die Parlement vir die soveelste keer vanjaar moes verdaag omdat daar nie ‘n kworum is nie.
“Ook omdat daar nou ‘n amendement op die tafel is om die vereistes vir ‘n kworum te verlaag. Ons voel skaam in die oë van die wêreld omdat dit op twee agtereenvolgende dae geskied het en omdat dit moontlik vandag (Donderdag) weer sal gebeur en sommer môre ook op die dag dat die Parlement moes sluit.
“Ons is ook skaam omdat dit gebeur het ten aanskoue van ‘n Nigeriese afvaardiging wat ons land besoek het. Die gerug gaan beslis daar versprei word.
“Dit is maar altyd dieselfde mense wat moet sorg dat daar ‘n kworum is. Dit is nie net die regerende party wat afwesig is nie, die opposisie is net so skuldig. Die name is mos bekend.
“Parlementariërs word goed besoldig en die meeste maak drie of vier keer hulle salarisse aan reisen verblyf- en ander toelaes. Dit kan ook tien keer hul salarisse wees (belastingvry) afhangende van hoeveel hulle reis.
“Ons werk ook nie so hard, soos iemand opgemerk het, dat ons miltsteek daarvan kry nie. Baie senior Parlementslede sluip so net voor 15:00, (afsnytyd) in en jy kan sien dat hulle so pas hulle middagslapie geniet het.
“Ons word verkies om te werk en om in die Parlement te sit en deel te neem aan besluitneming. Dit is onnodig dat ons ander se lagspiere moet prikkel omdat ons afwesig is of omdat die koerant foto’s van ons publiseer onder die opskrif ‘Snoozing honourables.’
“Daar is ‘n amendement ingedien dat ‘n kworum net sal geld as ons besluite moet neem. Ons wil so die standaard verlaag en daarmee sal dit ‘n voldonge feit wees dat die Parlement se standaard dieselfde afwaartse kurwe sal volg soos dit met alles gedoen is na onafhanklikheid.
“Ons wil dit betreur.”