24.09.2009 Lynn vereer vir diep spore
SY word die Florence Nightingale van Namibië genoem. Lynn van Dyk het as die eerste radiografis diep spore in die land getrap en is tydens die eerste Nasionale Week vir Radiografie vir haar toegewyde dienslewering vereer.
Haar reis met die Namibië Radiografiedienste het in 1971 begin toe sy in die destydse Salisbury (Harare) ’n koerantadvertensie vir ’n vakante radiografispos by die Oshakati Intermediêre Hospitaal gesien het. Sy het pas by die Salisbury sentrale hospitaal gekwalifiseer.
Binne ’n kort tydperk is sy na die Windhoek-staatshospitaal verplaas en was daar toe Katutura-hospitaal sy deure vir die eerste keer in November 1974 geopen het.
Radiografiste het ’n belangrike rol in gesondheidsdienslewering gespeel en me. Van Dyk onthou ’n tyd toe daar net drie radiografiste op roep was in Windhoek. ’n Enkele skof het vir ’n hele week geduur en hulle was nie eens toegelaat om hul huise in geval van ’n noodgeval te verlaat nie. Dit was die dae voor selfone.
In die laat sewentigs is sy as hoofradiografis aangestel. In 1981 het sy ’n jaar studieverlof geneem en het aan die Universiteit van Kaapstad as radiografis- opleier gekwalifiseer. Sy het na Namibië teruggekeer waar sy haar kennis aan jong studente oorgedra het.
Sy het dadelik met die department van Onderwys onderhandel om ’n skool vir radiografie in Namibië te open, maar ongelukkig kon sy nie toestemming kry nie. In 1982 is sy as beheerradiografis vir Namibië aangestel. In 1983 het sy ’n vier maande kursus in radiografiebeheer in Pretoria, aangebied deur die departement van gesondheid, gevolg.
In 1992 het me. Van Dyk haar eerste vier studente laat registreer vir ’n drie jaar nasionale diploma in Diagnostiese Radiografie. Al vier het hul kursus geslaag. ’n Oudstudent, me. Lindine Karunga- Beukes, onthou die dae baie goed: “Ons was die eerste vier proefkonyne en ons was te min om agter ’n groot groep weg te kruip as ons nie ons werk geken het nie.”
Behalwe vir die diplomastudente het sy ook assistent-radiografisstudente binne drie tot ses maande opgelei. Sy het tussen 1992 en 2000 dertig gekwalifiseerde radiografiste suksesvol opgelei. “Weens me. Van Dyk se harde werk en toewyding is alle senior radiografis- posisies in die land deur Namibiese radiografiste gevul,” sê me. Karunga-Beukes.
Die meeste van haar studente het selfs in verwante rigtings van radiografie gespesialiseer, soos radiografie, sonografie, kerngeneeskunde, bestralingsbeskerming, of het verder studeer in diagnostiese radiografie. Sommiges van hulle is vandag mediese dokters en ander het suksesvolle private praktyke in radiografie gevestig. Me. Van Dyk het onder andere verwys na dr. Celeste de Klerk wat nou ’n dokter by Katutura Hospitaal is. “Sy het vir my gesê dat radiografie vir haar ’n goeie grondslag geskep het.”
Oor haar toekenning is me. Van Dyk baie beskeie. “Dit is vir my ’n groot verrassing, veral omdat ek al agt jaar gelede afgetree het,” het sy aan Republikein gesê. Haar grootste prestasie was om die drie jaar diplomakursus in Diagnostiese Radiografie te begin. “Ek het baie hard gewerk om die kursus te begin. Ek was ’n kwaai onnie, maar ek is trots op baie van my studente wat verder gaan studeer het.”
Die eerste Nasionale Radiografie Week in Namibië is aan me. Van Dyk opgedra.
|